Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAUK-verslag is ‘snert’ sê Faith en Hlaudi

Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, en Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, het Dinsdag gesê ’n verslag oor redaksionele inmenging by die openbare uitsaaier is “snert”.

Die verslag van ’n kommissie van ondersoek na redaksionele inmenging en baantjies vir boeties by die SAUK, wat Maandag uitgereik is, onthul dat Muthambi by die redaksionele beleid ingemeng het en dat Motsoeneng onwettige opdragte aan mensehulpbronne gegee het om werknemers af te dank, te bevorder of aan te stel.

Muthambi het die kommissie Dinsdag daarvan beskuldig dat sy nie regverdig behandel is nie.

Faith Muthambi Foto: Lindile Mbontsi

“Dit sou billik en eerbaar gewees het as die skrywers van die verslag my gekontak het om my kant van die storie te hoor eerder as om my naam op dié manier te beswadder,” sê sy.

Joe Thloloe, voorsitter van die kommissie, het Maandag gesê daar was “verskeie voorvalle” waar Muthambi by die SAUK se redaksionele beleid ingemeng het.

Die verslag gee besonderhede van ’n voorval waar Muthambi aan ’n SAUK-span opdrag gegee het om ’n byeenkoms in Pietermaritzburg te dek waar sy “kiesafdelingswerk vir die ANC doen”.

Volgens die verslag het Muthambi gedreig om die hele span af te dank omdat hulle laat by die byeenkoms opgedaag het. “Ek kan julle afdank en ek kan jul baas ook afdank. Julle is die SAUK, julle is my mense en julle luister nie. Ek sal julle afdank en ek sal jul base ook afdank,” het sy glo aan die span gesê.

Die SAUK is ook in die proses om R21 miljoen se bonusbetalings aan Motsoeneng terug te kry. Motsoeneng het Dinsdag gesê hy sal nie die geld terugbetaal nie.

“Ek sal nie enige geld terugbetaal nie. Ek is ook in die hof om te sê hulle weerhou my geld. Wat hulle doen, is onwettig,” sê hy.

Hy het ook besluite wat hy by die SAUK geneem het, verdedig.

Hlaudi MotsoenengFoto: Elizabeth Sejake

“Waar ek opdragte gegee het, was dit vir die transformasie van die SAUK. Daar is niks fout daarmee nie.

Die kommissie het aanbeveel dat ’n komitee vir nuus en aktuele sake aangestel word om joernaliste, redakteurs en vervaardigers by te staan. Hulle het ook voorgestel dat die groep- uitvoerende hoof vir nuus as voorsitter van redaksionele beleid aangestel word en dat dié persoon aan die groep- uitvoerende hoof verslag moet doen.

Daarby moet Motsoeneng se opdragte aan mensehulpbronne geoudit word en waar daar probleme geïdentifiseer word, moet hierdie aanstellings omgekeer en weer geadverteer word.

William Bird, uitvoerende direkteur van Media Monitoring Africa, het Dinsdag gesê die verslag onderstreep ’n era van “growwe redaksionele inmenging” by die openbare uitsaaier. Hy het ’n beroep gedoen dat Muthambi, wat die voorsitter is van die parlementêre komitee oor koöperatiewe regering en tradisionele sake, afgedank word.

“Faith Muthambi behoort uit die parlement geskop te word omdat sy onder eed aan die SAUK-ondersoek gelieg het.”

Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie en digitale tegnologie, sê dié party sal strafregtelike aanklagte teen Muthambi indien omdat sy die uitsaaiwet oortree het en omdat sy die parlement mislei het in ’n SAUK-ondersoek in 2016.

Die kommissie, wat in Mei 2018 aangestel is, het ook ondersoek of daar ’n “regstreekse lyn” tussen besluite van die ANC en redaksionele besluite van die SAUK-nuuskantoor is.

Hoewel daar nie regstreekse bewyse gevind is nie, sê die verslag die “skim van die ANC het oor die nuuskantoor gehang”.

“Ons doen ’n ernstige beroep op die nuwe toesighouers van die SAUK-nuuskantoor om die openbare uitsaaier te beveilig teen enige politieke, kommersiële of private inmenging in die toekoms,” sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) in ’n verklaring.

Lazola Kati, die Right2Know-veldtog se nasionale woordvoerder, vra die “dringende inhegtenisneming” van diegene wat in die verslag geïmpliseer word.

Hannes du Buisson, woordvoerder van die Broadcasting Electronic, Media and Allied Workers’ Union (Bemawu), wil ook optrede sien teen diegene wat in die verslag genoem word.

“Ons weet al lankal hiervan. Die verslag bevestig wat ons weet oor die voormalige bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng se inmenging in die nuuskantoor,” sê hy.

Die SAUK het Maandag gesê hy sal dringend dissiplinêre stappe doen teen diegene wat in die verslag geïmpliseer word.

Meer oor:  Joe Thloloe  |  Faith Muthambi  |  Hlaudi ­Motsoeneng  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.