Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Schweizer: DA-fout was nie sy skuld

Die DA-bestuur, waaronder die voormalige uitvoerende hoof Paul Boughey, was regstreeks verantwoordelik vir die party se duur flater by Schweizer-Reneke.

Luyolo Mphithi

Volgens drie senior DA-bronne was Boughey verantwoordelik vir die verklaring en optrede van die federale jeugleier Luyolo Mphithi nadat ’n laerskoolonderwyseres van Schweizer-Reneke in Noordwes in Januarie verkeerdelik van rassisme beskuldig is.

’n Foto is op sosiale media gedeel waarin wit kinders en swart kinders by verskillende tafels sit in ’n kollega van Elana Barkhuizen se gr. 1-klas.

Barkhuizen het die foto daarvan vroeër die dag na ’n Whats­App-groepie vir ouers gestuur.

Dit het agterna geblyk die kinders is weens taalverskille geskei.

Mphithi het die foto op Twitter gedeel en getwiet: “Dit is hoekom ek nie sal ophou totdat ons ’n gelyke samelewing het nie. Dit is ’n skool in Noordwes. Dit breek my.”

Hy het kort daarna in ’n verklaring gesê hy gaan die skool besoek en ’n ondersoek aanvra.

Ek dink Luyolo het ongelooflike moed aan die dag gelê om hierdie hou op sy eie te vat.

Die DA se hantering van die voorval is in die party se hersieningsverslag oor die algemene verkiesing voorgehou as een van die hoofredes waarom die DA soveel stemme verloor het.

Volgens drie bronne in die DA, waaronder Liza Albrecht, ’n senior kommunikasiebestuurder, was Boughey en sy span verantwoordelik vir die verklaring, asook vir Mphithi se sending na Schweizer-Reneke.

“Geen verklaring is nasionaal uitgestuur voor die verkiesing sonder dat dit deur die hande van Boughey of Jonathan Moakes (die party se voormalige verkiesingshoof) is nie,” sê Albrecht.

Die ander twee bronne, albei senior DA-lede, het Albrecht se weergawe beaam, maar verkies om anoniem te bly.

Dit kom nadat Helen Zille, voorsitter van die party se federale raad, twee weke gelede in ’n onderhoud met Hanlie Retief gesê het dat Mphithi “onder die bus gegooi is”.

Zille het by navraag volgehou dat dit die federale hoofkantoor was wat Mphithi “onder die bus gegooi” het, maar wou nie sê wie sy glo verantwoordelik was nie.

“Toe die hele ding opblaas en dit ’n negatiewe impak op die verkiesing het, het niemand vorentoe gekom om te sê dat Luyolo slegs instruksies van die federale hoofkantoor geïmplementeer het nie.

“So, dis hoekom ek sê hy is onder die bus gegooi,” het Zille gesê.

Zille sê sy beskou dit as bitter onregverdig teenoor iemand wat toe net sy loopbaan as parlementslid moes begin.

“Ek dink Luyolo het ongelooflike moed aan die dag gelê om hierdie hou op sy eie te vat sonder dat enigiemand opstaan en sê hy was nie daarvoor verantwoordelik nie.”

Zille sê selfs toe Mphithi sê hy is jammer oor wat met Barkhuizen gebeur het, is hy weer deur die leierskap gerepudieer.

“Die mense wat hom onder die bus gegooi het, is nie meer hier (in die DA) nie, maar Luyolo moes met ’n verskriklike las op sy skouers as LP begin.”

Boughey, wat op 17 Oktober as uitvoerende hoof bedank het, het by navraag dit uitdruklik gestel dat hy nie betrokke was by die verklaring nie.

Hy het ook ontken dat hy Mphithi gevra het om Schweizer-Reneke toe te gaan.

“Ek het niks met hierdie kwessie uit te waai nie,” sê Boughey.

Mphithi was ook teenwoordig tydens Rapport se gesprek met Zille, maar wou nie deelneem nie omdat die Schweizer-Reneke-voorval deur ’n komitee ondersoek word in opdrag van die DA se federale raad.

Meer oor:  Helen Zille  |  Luyolo Mphithi  |  Elana Barkhuizen  |  Liza Albrecht  |  Paul Boughey  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.