Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Kaapse bendes: Bheki en sy boys is hier’

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag oorlog verklaar teen bendes en georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte.

“Sê vir die bendes Bheki Cele en sy boys is hier,” het hy in Mitchells Plain gesê.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag ’n trein in Khayelitsha gehaal. Foto: SAPD, Piet Smit

Ure voor sy begrotingsrede in die parlement het Cele per trein uit Khayelitsha gereis en inwoners van Mitchells Plain aangemoedig om die misdadigers in hul midde aan die polisie uit te lewer.

“Ons wil nie die handlangers toesluit nie, ons soek die grootkoppe. Ons wil nie die klein vissies hê nie, wys ons die regte mense, wys ons die base, diegene wat geld uit die bloed van ons kinders maak.”

Cele het “Operasie Thunder” in Portlands van stapel gestuur en beloof dat die polisie bykomende hulpbronne op die Kaapse Vlakte sal ontplooi om bendes, dwelms en taxigeweld hok te slaan.

“Benewens die bestaande beamptes in verskillende polisiekantore het ons nog 269 beamptes vir drie maande ontplooi om seker te maak dat jul kinders, jul huise en jul strate veilig is.”

Cele het misdadigers gewaarsku dat die polisie nie sal huiwer om hulle te soek, te vang en toe te sluit nie. Hy het die gemeenskap gemaan om nie in die polisie se pad te staan deur die bendeleiers en dwelmhandelaars te beskerm nie.

“Help ons, moenie misdadigers in jul huise wegsteek nie. Hierdie misdadigers kom uit jul huise, hulle is jul seuns, mans en kêrels – dus, moenie ons vertel dat julle hulle nie ken nie.

Bheki Cele, minister van polisie, luister na lede van die gemeenskap. Foto: SAPD | Piet Smit

“Ons sal hulle soek waar hulle in die yskaste wegkruip, ons sal hulle kry onder die beddens, ons sal hulle in die kombuise en op die straat kry – moenie probeer om hulle te verdedig nie, want as dit jou kêrel is, en jy beskerm hom, sluit ons julle albei toe,” het Cele onder toejuiging gesê.

“Terselfdertyd sal die polisie die gemeenskap met respek behandel. Werk met die gemeenskap soos met duifies, maar met misdadigers soos slange.”

Hy het beamptes gemaan om nie betrokke te raak by misdaad nie. “Moenie staatsvuurwapens aan misdadigers verkoop nie, moenie ons teleurstel nie.”

Cele het ook gesê dis nie die laaste keer dat die gemeenskap hom sal sien nie. “Ek gaan baie tyd hier deurbring, in padblokkades, en as ons deur-tot-deur gaan. Kaapstad is ’n toeristestad, maar ons is nie hier om te swem of na die berg te kyk nie. As ons hier klaar is, sal jul lewe beter wees.”

Lede van die gemeenskap het die minister gevra om doelgerig op te tree.

“Minister, die bloed loop in ons strate af. Ons mense moet beskerm word. Die misdadigers moet toegesluit word, dit maak nie saak of hulle 60 of 16 jaar oud is nie,” was Lucinda Evans, voorsitter van die Mitchells Plain- gemeenskapspolisiëringsforum se pleidooi.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Mitchells Plain  |  Kaapse Vlakte  |  Trein  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.