Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘SEB is relevant en bly ANC-beleid’
Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se komitee oor ekonomiese transformasie. Foto: Thapelo Maphakela

Swart ekonomiese transformasie (SEB) is steeds relevant en daarom bly dit ANC-beleid.

So het Enoch Gondongwana, voorsitter van die ANC se komitee oor ekonomiese transformasie, Sondag gesê in reaksie op ’n ope brief van Sipho Pityana, voorsitter van die sake-organisasie Business Unity South Africa (Busa), waarin hy onder meer sê die “trotse en lofwaardige doelwitte van SEB is gekaap met rampspoedige gevolge”.

Rapport  het Sondag berig oor die skerp reaksie van die Black Business Council (BBC), wat bekend is om sy noue bande met oudpres. Jacob Zuma, op dié ope brief.

Sandile Zungu, BBC-voorsitter, het luidens Rapport se berig Vrydag in Sandton op die BBC se tweejaarlikse beraad gesê “die groot manne wat die BBC met ope briewe probeer ontspoor, sal vermorsel word”.

Pityana het Zungu Woensdag in sy ope brief daarvan beskuldig dat hy aan die hooftafel van staatskaping gesit het. Hy het ook gesê die BBC het die aansien van swart sakelui beklad omdat hy jare lank onbevoegde mense by staatsinstellings ontplooi het waar hulle hulpbronne vir arm swart mense in hul eie sak gesteek het.

Volgens Rapport sal die rol van SEB in die komende weke skerp onder die soeklig by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping kom.

ANC
ANC

Godongwana het Sondag gesê hy wil nie by die uitval tussen Pityana en Zungu betrokke raak nie.

“Ek wil dit egter herbevestig dat SEB ANC-beleid is en dit sal bly. Ons het op groot vordering met SEB gemaak, wat sakelui soos Pityana bevoordeel het.”

Volgens Godongwana val Pityana soos hy dit verstaan ook nie SEB as beleid aan nie, maar het hy probeer uitlig hoe die beleid misbruik is om byvoorbeeld staatskaping moontlik te maak.

“Die doel daarvan bly egter om die skewe eienaarskap van die land se ekonomie ten opsigte van ras reg te stel en om geleenthede vir swart mense oop te maak om ook aan die hoofstroom-ekonomie deel te neem.

“Ons glo SEB-beleid is vandag steeds relevant omdat ons kan sien dat die ekonomie en die eienaarskap daarvan steeds nie getransformeer is om die demografie van Suid-Afrika werklik te weerspieël nie, het Godongwana gesê.

Oor getuienis oor die rol van SEB voor die Zondo-kommissie van ondersoek, het hy gesê hy is nie bereid om getuienis voor die kommissie vooraf te bespreek nie.

“Die regter sal, as dit nodig is, nadat die kommissie sy werk afgehandel het aanbevelings in sy verslag doen oor hoe ons beleid verbeter kan word.”

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se skool vir sekuriteit en Afrika-studies, het Sondag gesê dit is ’n “jammerte” dat Pityana en Zungu in só openbare uitval betrokke is, “veral omdat albei gesiene sakemanne is”.

Hy meen beleid soos dié oor SEB is nodig sodat swart mense ook deur die ekonomie bevoordeel kan word, maar dat populistiese ANC-beleid soos “radikale ekonomiese transformasie” en die onteiening van grond sonder vergoeding “opportunisties” is. Dit is omdat die ANC dit begin bevorder het as deel van sy teenpropoganda om die aandag weg te lei van staatskaping, korrupsie en die ANC-regering se mislukking om sy bestaande beleid toe te pas.

Rapport het Sondag ook berig hoe ’n vertroulike dokument van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming onder meer flagrante geldvermorsing toon omdat geen rekenskap gegee kan word van miljoene rande wat aan opkomende boere betaal is nie.

Dit het glo daartoe gelei dat Christopher Gavor, die waardeerder-generaal, bedank het.

Meer oor:  Seb  |  Zondo-Kommissie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.