Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Sege vir SAUK-4 is sege vir al agt’
Thandeka Gqubule, afgedankte sakeredakteur van die SAUK, omhels Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, Dinsdag in die arbeidshof in Johannesburg nadat dié hof bevind het sy en nog drie SAUK-joernaliste se afdanking was onregmatig. ’n Soortgelyke saak van Gqubule en nog twee afgedankte joernaliste word Woensdag in die arbeidshof aangehoor. Regs is dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat die saak namens Krige en die ander drie gevoer het. Foto:Felix Dlangamandla

’n Oorwinning vir vier is ’n oorwinning vir agt.

“Hierdie is ’n soliede oorwinning. Ek noem dit ’n ‘six-love’-sege,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Dinsdag op ’n mediakon-ferensie in Johannesburg gesê nadat die arbeidshof in die guns van vier afgedankte SAUK-joernaliste beslis het.

Die uitspraak maak die roete veel duideliker vir hul vier kollegas wat steeds werkloos is, sê Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit.

Drie van hulle – Thandeka Gqubule, Busisiwe Ntuli en Lukhanyo Calata – se saak kom Woensdag in die arbeidshof voor.

Kruger glo hulle kan op dieselfde grondslag na die arbeidshof gaan en vir ’n soortgelyke bevel vra.

Hermann meen daar moet ook gevolge wees vir die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng.

Solidariteit, wat namens Foeta Krige, Krivani ­Pillay, Suna Venter en Jacques Steenkamp opgetree het, het geweet hy gaan die saak wen aangesien sy saak moreel en wetlik geregverdig is, sê hy.

Die vier joernaliste sal na verwagting vandag by die werk wees.

Solidariteit het dit duidelik gemaak dat die SAUK met valkoë dopgehou gaan word om seker te maak hulle hou by die uitspraak.

“Die uitspraak is baie duidelik. As die SAUK nie daaraan gehoor gee nie, is dit minagting van die hof,” sê Hermann.

Hy sê indien die SAUK die bevel minag, is hulle gereed om die hof weer oor die saak te nader.

Regter Robert Lagrange het in sy uitspraak geskryf in die oë van die reg is dit asof die afdankings nooit gebeur het nie.

“Dus sal ’n bevel wat die applikante se afdanking as ongeldig verklaar, die wetlike effek hê dat die afdankings nooit plaasgevind het nie.”

Luidens die uitspraak het die mense wat die besluite oor die afdankings geneem het, dit gedoen met ’n “roekelose gebrek aan inagneming” van die Helen Suzman-stigting se hofsaak en Solidariteit se dringende aansoek om die tugsaak uit te stel totdat uitspraak in die hofsaak gelewer is.

Hy het gesê belastingbetalers is uiteindelik die mense wat vir die regskoste verantwoordelik gehou sal word.

“Dit is tyd vir howe om ernstige oorweging daaraan te skenk dat beamptes wat in ’n selfvoldane manier optree, self verantwoordbaar gehou word vir koste,” skryf Lagrange.

Hy sê dit is reg dat die SAUK met koste verloor, maar daar moet bepaal word of die individue wat die besluite geneem het, of die SAUK as geheel verantwoordbaar daarvoor gehou moet word.

Sebolelo Ditlhakanyane, hoof van radionuus, en Malolo ­Tebele, waarnemende groephoof vir nuus en aktuele sake, word dus nou die kans gegun om te verduidelik hoekom hulle nie vir die regskoste van die applikante aanspreeklik gehou moet word nie.

Meer oor:  Foeta Krige  |  Jacques Steenkamp  |  Suna Venter  |  Hlaudi Motsoeneng  |  Hof  |  Afgedank  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.