SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Seksuele misbruik in SANW: 'Te min en te laat'

Die ondersoek na seksuele oortredings teen vrouesoldate en burgerlikes in buurlande deur soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is ’n welkome wending, maar te min en te laat, meen dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Groenewald, wat destyds lid was van die Tussentydse Weermagdienste-kommissie wat onder meer seksuele vergrype op weermagbasisse ondersoek het, het dit gesê nadat die parlement Dinsdag die aankondiging van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, verwelkom het.

Sy het Donderdag aangekondig dat sy ’n span van drie, onder leiding van Thoko Mpumlwana, adjunkvoorsitter van die kommissie vir geslagsgelykheid, aangestel het om die beweringe van seksuele misbruik en uitbuiting in die weermag te hanteer.

Cyril Xaba, voorsitter van die portefeuljekomitee gemoeid met hierdie departement, het Dinsdag in ’n verklaring ’n oproep op Mapisa-Nqakula en haar departement gedoen om voort te gaan met hul planne om hierdie euwel in die SANW uit te roei.

Dit omdat dit volgens die komitee nie net die beeld van die weermag skaad nie, maar ook ’n bedreiging inhou vir vrouesoldate en burgerlikes in buurlande waar die weermag vir vredesendings ontplooi word.

Dr. Nomafrench Mbombo, leier van die DA se Vroue-netwerk en Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, het Dinsdag selfs haar oproep herhaal dat pres. Cyril Ramaphosa sy noodplan teen gendergeweld, veral tydens die huidige veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, uitbrei om ook te fokus op vroue in die weermag en ander regeringsinstellings.

“Die regering is veronderstel om ’n voorbeeld te stel in ons optrede. Die regering is geneig om na buite vingers te wys oor veral gendergeweld, maar tog is daar ook slagoffers in ons regeringsdepartemente. Sulke interne gevalle soos die in die weermag moet daarom ook dringende aandag kry.”

Die Mail & Guardian het Vrydag berig hoe ’n interne SANW-verslag lui dat sowat 41 soldate die afgelope 18 maande aangekla is van onder meer verkragting en ander seksuele oortredings. Van die sake duur nog voort. Dertien soldate is skuldig bevind en 11 vrygespreek.

Die koerant het ook berig dat seksuele oortredings in die weermag so erg is dat daar in Augustus 2018 ’n konferensie daaroor gehou is. ’n Verslag wat uit die

konferensie gespruit het, het ’n donker prentjie geskets van hoe vroue in die weermag deur hul kollegas en bevelvoerders seksueel geviktimiseer word.

Die Mail & Guardian het verder berig hoe die Verenigde Nasies dit in ’n stadium oorweeg het om die SANW permanent uit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), waar dit met vredesendings help, te onttrek.

Dit veral omdat daar sowat 21 sake aangemeld is van seksuele uitbuiting en aanrandings deur onder meer soldate van die Suid-Afrikaanse leër, lugmag en militêre gesondheidsdienste.

Groenewald het verder gesê dat hulle as lede van die tussentydse kommissie tussen 2010 en 2013 verskeie weermagbasisse besoek het en verslae daaroor aan die destydse minister oorhandig het.

“Die verslae het pertinent gewys op seksuele wandade in die weermag, veral met betrekking tot die uitbuiting van vroulike soldate as dit by bevorderings en kursusse gekom het.

“Die probleem is al lankal geïdentifiseer. Dit is bitter jammer dat dit so toegeneem het dat dit nou ondersoek moet word.”

Groenewald meen die seksuele oortredings is net nóg ’n teken van dissipline in die weermag wat jaarliks verswak.

“Daar word nie streng genoeg teen seksuele oortreders opgetree nie. Die parlement moet ook skuld aanvaar omdat hy nie genoeg druk toepas om te verseker dat strenger wetgewing en strafmaatreëls daarteen in plek is nie.”

Helmoed Römer-Heitman, ’n militêre kenner, het Dinsdag gesê hoewel soldate wat hulle aan seksuele oortredings in die SANW skuldig maak ’n minderheid is, moet dit gestop word.

“Dit ondermyn dissipline en samehorigheid, wat op die einde die doeltreffendheid van die weermag in die geheel ondermyn.

“Soldate wat nie hul gulpe kan toehou nie, moet uitgeskop word. Hulle mag ook nie hul range misbruik nie. Dit is onaanvaarbaar,” het Römer-Heitman gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.