Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Selfoonsein-onderskepper: Praat Sitole die waarheid?

Het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, Donderdag vir lede van die parlement se staande komitee vir polisie gejok?

Dit is die vraag op polisiebeamptes en politici se lippe nadat Sitole Donderdag aan dié komitee gesê het die inspekteur-generaal (IG) vir intelligensie het hom en sy adjudante – lt.genl. Lebeoana Jacob Tsumane (adjunk- nasionale kommissaris: misdaadopsporing) en lt.genl. Francinah Vuma (adjunk- nasionale kommissaris: bestuursadviesdienste) – van alle blaam onthef oor hul beweerde betrokkenheid by die aankoop van ’n selfoonsein-onderskepper teen ’n opgeblase prys van R45 miljoen.

Luidens ’n verslag van die IG, gedateer November 2018, blyk dit dat Sitole in der waarheid oor die kole gehaal is oor die kwessie. Netwerk24 het die verslag onder oë gehad.

Khehla Sitole, nasionale polisiehoof. Foto: Jaco Marais

Die IG skryf hierin Sitole het voor die ingryping van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) daarop aangedring dat met die koop van die nou veelbesproke onderskepper voortgegaan moet word – “ondanks die feit dat hulle die teendeel aangeraai is”.

Luidens die verslag het Sitole as die verantwoordelike rekenpligtige amptenaar ook die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies oortree. Hy moes onder meer toesien dat die polisie, of dan misdaadintelligensie, ’n regverdige, billike, deursigtige, mededingende en kostedoeltreffende proses vir die aankoop van die selfoonsein-onderskepper volg.

Dit is volgens die IG nooit gedoen nie en is art. 38(i)(a)(iii) en (iv) van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies oortree.

Die IG kap in die verslag ook na ander senior polisiebestuurslede en sê hulle het ook die wet oortree toe hulle ’n “noodgeval-aankope” geskep het, terwyl hulle geweet het onderhandelinge met IView Integrated Systems, die verskaffer van die onderskepper, het reeds maande vantevore begin.

Hulle is gewaarsku dat daar alternatiewe en goedkoper verskaffers is.

Die IG het verder aanbeveel dat misdaadintelligensie die verslag waarop die dringende aankoop van die onderskepper gegrond is, aan sy kantoor oorhandig. Hy beveel ook aan dat ’n interne ondersoek gedoen word na die prosesse wat gevolg is.

Sitole het Donderdag aan die komitee gesê die uitspraak op 30 Junie vanjaar in die appèlhof in Bloemfontein het niks te doen met die aankope van die selfoonsein-onderskepper nie. Hierin is sy en drie ander se aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak in die hooggeregshof dat hulle die klassifikasie van dokumente “as rookskerm gebruik het”, van die hand gewys.

Die regters het volgens hom ook glad nie die IG se verslag “waarin hulle van blaam onthef word”, in ag geneem nie.

Volgens hom het die appèlhofuitspraak bloot gehandel oor die deklassifikasie of klassifikasie van dokumente.

Hy het gesê dit sal voortydig wees om te vra of hy, Vuma en Tsumane gaan bedank of nie.

“Die saak word nog ondersoek,” het Sitole gesê.

Ek het ook nie ’n versoek gekry om die regskoste vir die nasionale kommissaris van polisie oor bogenoemde saak goed te keur nie.

Maar intussen het Bheki Cele, minister van polisie, gesê dit is belangrik om te weet dat Sitole hom as minister nooit amptelik ingelig het oor hierdie hofuitspraak teen Sitole en sy adjudante nie.

Cele het gesê die regbank is die oppergesag en dat sy besluite bindend is. Hy vind dit dus vreemd en betwyfel dit dat enige ander regeringstruktuur Sitole en sy adjudante van alle blaam sou onthef.

“Ek het ook nie ’n versoek gekry om die regskoste vir die nasionale kommissaris van polisie oor bogenoemde saak goed te keur nie.”

Daarom bly enige koste wat daarmee saamgaan, ongemagtig en onwettig.

Cele “vind dit kommerwekkend” dat inligting oor hofsake wat na hom toe moet kom, geblok word.

Sitole het by navraag by monde van sy woordvoerder, genl.maj. Mathapelo Peters, gesê hy hou by sy antwoord Donderdag aan die komitee.

Netwerk24 het die afgelope week berig oor die appèlhof se uitspraak op 30 Junie teen Sitole, Tsumane, Vuma en Bongani Mbindwane, spesiale raadgewer van Fikile Mbalula, toe hy nog minister van polisie was.

Die dokumente ter sprake is deur Opod aangevra as deel van sy ondersoek na die verkryging van die selfoonsein-onderskepper.

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het gesê dat hulle eers Woensdag, toe Netwerk24 hieroor navraag gedoen het, bewus geraak van die uitspraak.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het by navraag gesê die komitee het gevra vir ’n volledige verslag.

“Eers nadat ons die verslag bestudeer het, sal ’n ingeligte besluit geneem kan word.”


Meer oor:  Bheki Cele  |  Khehla Sitole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.