Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Selfs Guptas het regte’ – Molefe
Brian Molefe getuig Maandag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

“Selfs die Guptas het regte.”

Só het Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet en Eskom, Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek gesê.

Molefe het uitgevaar oor die manier waarop hy en die Guptas behandel word en gesê hy is nie deur die openbare beskermer (adv. Thuli Madonsela) beskerm nie. “Die openbare beskermer moes my beskerm het. Die Guptas het miskien gedoen wat hulle gedoen het, maar ek was nie deel daarvan nie,” het Molefe gesê.

Hy het bygevoeg hy is verraai deur die openbare beskermer, wat “net ’n masjiengeweer op outomaties gesit en na alles geskiet het”.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het Molefe gevra of hy nie verraai voel deur die Guptas nie. Hy het noue bande met hulle gehad, maar volgens sy weergawe het hulle hom nie van al hul planne vertel nie.

Molefe het geantwoord dit is deur die openbare beskermer wat hy verraai voel omdat hy nooit gevra is wat hy by die Guptas gedoen het nie. Hy het vroeër getuig hulle was so dikwels in mekaar se geselskap omdat hulle planne beraam het om saam ’n bank te begin.

Molefe het getuig die hele manier waarop die saak van die Guptas hanteer is, is dat hulle skuldig bevind is nog voordat ’n behoorlike proses gevolg is.

Molefe het gevra of iemand wat nie skuldig bevind is nie en vlug, behandel kan word asof hulle skuldig is.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê hy het nog nie ’n bevinding gemaak nie; die kommissie is nog besig met sy ondersoekwerk.

Molefe het gesê hy aanvaar die grondwetlike stelsel dat ’n mens onskuldig is totdat jou skuld bewys is. “Selfs die Guptas het regte.”

Zondo het dit aan Molefe gestel dat hy weet die Guptas het uit die land gevlug en dat hulle aan die kommissie gesê het hulle gaan nie gehoor gee aan die regsprosesse van Suid-Afrika nie.

Molefe se antwoord hierop was die bates van die Guptas waarop beslag gelê is, is met ’n hofbeslissing aan hulle terugbesorg. “Ek sal eerder wag vir die howe.”

Zondo se antwoord hierop was dat Molefe dalk vir ewig sal wag, want hulle (die Guptas) het landuit gevlug.

Molefe het gevra of iemand wat nie skuldig bevind is nie en vlug, behandel kan word asof hulle skuldig is.

Zondo het hierop geantwoord dat dieselfde howe wat die Guptas se eiendom teruggegee het, dieselfde stelsel is wat hulle (die Guptas) nie vertrou nie.

Myburgh het Molefe gevra of hy iets anders sou wou doen indien hy terugkyk op die tyd toe hy aan Transnet verbonde was.

Molefe het geantwoord hy sou dalk nie na Eskom toe gegaan het toe hy gevra is om daarheen te skuif nie. Hy kon nooit sy planne deurvoer “om van Transnet ’n wêreldklas-maatskappy te maak nie”.

Meer oor:  Transnet  |  Eskom  |  Brian Molefe  |  Staatskaping  |  Guptas  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.