Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Seloane sê SMME’s se bestaan verder bedreig

In die Oos-Kaap is dit ’n ongeskrewe reël dat klein sakeondernemings wat met die staat sake doen, nie hul geld kry as die amptenaar “nie reggesien word nie”, beweer ’n sakeman van Bhisho in dié provinsie.

Dondo Mogajane

En as iemand betyds betaal word, word algemeen aanvaar ’n staatsamptenaar het ’n stewige beloning gekry.

Die sakeman, wat anoniem wil bly, doen al meer as tien jaar sake met die Oos-Kaapse regering. Sulke omkopery en korrupsie is een van die vernaamste redes waarom die regering klein en medium-ondernemings (SMME’s) laat betaal, sê hy.

Luidens die jongste verslag van die Staatsdienskommissie (PSC) skuld die Oos-Kaapse regering R2,4 miljard aan 23 795 SMME’s in dié provinsie.

Dié sakeman skets ’n prentjie van mafia-agtige dreigemente teen SMME’s as hulle nie omkoopgeld betaal aan amptenare in beheer van die betalings van fakture nie.

“Die amptenaar het junior mense onder hom wat die eienaars van ondernemings mag intimideer, dreig of selfs beseer as die omkoopbedrag nie betaal word nie. Dié gedrag om betalings terug te hou, het begin weens die jaloesie van staatsamptenare. Van daar af het hulle in korrupte amptenare ontaard.

“Dit is bekend dat die meeste staatsamptenare meestal indirek by tenders betrokke is deur ’n web van verteenwoordigers, familielede, eggenotes, ensovoorts. Sommige mense is letterlik al dood en ander het beroertes en hartaanvalle gehad,” beweer die sakeman.

Staatsdepartemente het die afgelope week weer gehoor hulle is wetlik verplig om hul verskaffers binne 30 dae te betaal. Ondanks die laat betalings, sê Nomkhita Mona, uitvoerende hoof van Nelson Mandelabaai se sakekamer, “het die sakekamer se lede nog nie gekla nie”.

Volgens die PSC is die skuld aan Noordwes die tweede hoogste in Suid-Afrika met R603,5 miljoen, gevolg deur Gauteng (R548,2 miljoen), die Noord-Kaap (R399,2 miljoen), die Vrystaat (R265,1 miljoen), KwaZulu- Natal (R101,2 miljoen), Limpopo (R1,01 miljoen) en die Wes-Kaap (R358 732). Aan SMME’s in Mpumalanga is einde Februarie R2,4 miljoen geskuld.

Die departement van water en sanitasie was einde Maart die nasionale departement met die meeste uitstaande betalings, naamlik R505,7 miljoen.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het reeds in 2018 gesê rekenpligtige amptenare moet verseker dat eise binne 30 dae betaal word.

Michael Seloane, kommissaris van die PSC, het Woensdag gesê die SMME’s voer ’n bestaanstryd weens die Covid-19-krisis. “Dié ondernemings is nou verder onder druk weens die staat se niebetaling,” het hy tydens ’n virtuele bekendstelling van sy kwartaallikse bulletin, The Pulse of the Public Service, gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.