Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Senekal: ‘Blatante misdadigheid sal nie geduld word,’ sê premier

Die Vrystaatse premier sê die betogers wat Dinsdag by die landdroshof in Senekal staatseiendom beskadig het, moet geïdentifiseer en aangekla word.

Sisi Ntombela het Woensdag gesê enige vernietiging van staatseiendom is “ ’n regstreekse aanval op belastingbetalers en die grondwetlike fondament van die land en moet op die sterkste manier moontlik veroordeel word”.

Sy sê hoewel sy die gewetenlose moord op Brendin Horner (22) ten sterkste veroordeel, kan die aanval op die polisie en die beskadiging van eiendom, en veral van die howe van die land, nie geduld word nie. “Daar is geen regverdiging vir so ’n aanval op ons wetstoepassingsowerhede nie.”

Sy sê die regering kan nie “sulke dade van blatante misdadigheid” duld nie, ongeag wie die oortreder is.

Intussen het Sam Mashinini, die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, ook die voorval veroordeel.

Die polisievoertuig wat betogers eers omgegooi en later aan die brand gesteek het. Foto: Mlungisi Louw

“Wetteloosheid en rumoerige gedrag kan nie toegelaat word nie. Niemand het die onvoorwaardelike reg om die reg in eie hande te neem nie, terwyl die saak in die hande van die toepaslike owerhede is en veral omdat die verdagtes reeds deur die polisie aangekeer is.”

Hy sê hulle veroordeel eweneens die grusame moord op Horner, maar “ons kan nie stilbly oor die teleurstellende gedrag van hierdie groep boere nie”.

“Hierdie groep se vandalisme van hofeiendom en die verbranding van ’n polisievoertuig is baie problematies.”

Mashinini het hom by Bheki Cele, minister van polisie, geskaar en gesê hoewel alle Suid-Afrikaners die demokratiese reg het om ’n vreedsame optog te hou, “is die reg om te betoog nie onvoorwaardelik nie en gaan dit gepaard met verantwoordelikheid”.

Richard Mamabolo, woordvoerder van die polisievakbond Popcru, sê die vakbond vind die vernietigende optrede van die betogers ontstellend. “Gedurende die hinderlaag is verskeie skote afgevuur, en die weerbarstige betogers het probeer om by die verdagtes in die hof se aanhoudingselle uit te kom, wat tot ’n botsing met die polisie en die beskadiging van ’n polisievoertuig gelei het.”

Plaasmoorde verdien dieselfde aandag as enige ander moord, en dit is ingesluit by die ernstigste misdade, het Mamabolo gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.