Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Senekal: Hoës wil ras-vlamme blus

Te midde van vrese van nog geweldpleging by die landdroshof in Senekal word die staat daarvan beskuldig dat hy ’n voorbeeld wil maak van die 51-jarige André Pienaar.

Brendin Horner

Pienaar word steeds in Senekal aangehou nadat boere verlede week dié hof bestorm het.

Hy word aangekla van terrorisme, poging tot moord, aanhitsing tot geweld en openbare geweldpleging ná die chaos wat in dié Vrystaatse dorp losgebars het tydens die verskyning van die twee beskuldigdes in die moord op Brendin Horner (21).

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die naweek gesê die klagstaat teen Pienaar word gelaai met ernstige aanklagte.

Die aanklagte van terrorisme en poging tot moord is ernstig en onbillik en daardeur maak die nasionale vervolgingsgesag (NVG) hom skuldig aan vooroordeel.

Groenewald sê die vervolgingsgesag jaag ook emosies op deur ’n senior advokaat aan te stel om borgtog teen te staan en dit is duidelik hy wil van Pienaar ’n voorbeeld maak.

Pienaar se borgtogaansoek is Vrydag aangehoor, maar uitspraak word eers môre gelewer.

Adv. Jacques Potgieter, wat hom verteenwoordig, het Vrydag in die hof gesê die enigste tasbare bewys wat die polisie teen Pienaar het, is die videomateriaal wat in die media en sosiale media die ronde doen.

Die staat wil op grond daarvan nou al die gebeure van die dag voor Pienaar se deur lê.

Brig. Tshokolo Posholi, provinsiale hoof van die Valke in die Vrystaat, het getuig Pienaar het onder meer ’n vroulike polisielid by die hof in Senekal gewurg. Hy het ook gesê Pienaar het mense aangerand en dat twee skote in die hofgebou afgevuur is.

’n Polisievoertuig brand buite die landdroshof in Senekal in die Oos-Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Potgieter het gesê dié oortredings is nie deel van die klagstaat nie en voorts is daar geen bewyse dat Pienaar daarvoor verantwoordelik was nie.

Posholi het erken dat die polisie nie weet wie die skote afgevuur het nie. Hulle soek na nog mans, onder andere iemand van Bethulie en ook ’n persoon van Mpumalanga.

Die klag van poging tot moord is deur die staat bygevoeg omdat Pienaar glo mense in die hof se aanhoudingselle wou doodbrand en omdat “iemand na aan Pienaar” petrol in ’n houer by ’n vulstasie gekoop het.

Dit het intussen aan die lig gekom dat talle gesprekke op hoë vlak vandeesweek gaan plaasvind om ’n herhaling van verlede week se gebeure te voorkom.

Die twee beskuldigdes in die Horner-saak verskyn weer Vrydag in die hof.

Tommy Esterhuyse, landelike veiligheidshoof van Agri SA, het gister gesê hulle was reeds in gesprek met die polisie.

“Ons sal ten nouste met die polisie saamwerk.

Ek wil dit graag benadruk: Dit is nie ’n rasseding nie, al is daar baie mense wat dit so wil sien.
Tommy Esterhuyse, landelike veiligheidshoof van Agri SA

“Ek wil dit graag benadruk: Dit is nie ’n rasseding nie, al is daar baie mense wat dit so wil sien.

“Wat aanleiding gegee het tot baie van die frustrasie en emosie verlede week, is die polisie se onvermoë om sy werk te doen,” sê Esterhuyse.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, het gesê topvlak-gesprekke sal vroeg vandeesweek plaasvind.

“Dit klink vir my of daar ’n klompie inisiatiewe is waarby onder meer die polisie betrek is om die polarisasie wat tans aan die gang is, te besweer.

“Dit is nie net een organisasie wat ’n verskil kan maak nie. Niemand het dié goed tot dusver gereël nie, mense het spontaan Senekal toe gegaan.

“Daarom is dit nie so maklik om bloot te sê hier is die reëls waarvolgens georganiseer word en dies meer nie,” sê De Jager.

“Ons sal inval by enige plan om die vrede te bewaar. Die groot probleem is mense se gebrek aan vertroue in die stelsel.

“Baie van die boere meen hulle word aangekla wanneer hulle verkeerd gedoen het, maar baie ander goed wat in versetoptrede gedoen word deur byvoorbeeld vakbonde en die EFF, word oor die hoof gesien.”

  • TLU SA se uitvoerende komitee vergader ook Dinsdag om die situasie te bespreek.
DA wil klagte indien teen EFF-2

Die DA gaan Maandag strafregtelike klagte indien teen Julius Malema, leier van die EFF, en Nazier Paulsen, ’n EFF-LP, oor hul boodskappe op sosiale media wat volgens die DA neerkom op aanhitsing tot geweldpleging.

Malema het verlede week op Twitter geskryf: “Magwala a chechele morago! (lafaards staan terug; vegters, val aan!”).

In die naweek het hy ’n foto van ’n masjiengeweer op Twitter geplaas.

Paulsen het ’n foto geplaas van ’n masjiengeweer en daarby geskryf: “Maak gereed.”

Mazzone sê opruiende uitlatings soos dié is ’n ernstige oortreding.

Sy het ’n beroep op die minister van polisie, Bheki Cele, en die parlement gedoen om teen hulle op te tree.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gister gesê alle voorvalle van geweld in landelike gebiede moet verwerp word.

Die EFF het Sondagaand die DA se beplande indien van klagte as ’n “publisiteitsfoefie” afgemaak.

Meer oor:  Nvg  |  Staat  |  Terrorisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.