Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Senekal wys vrede kan nie net by praatjies bly nie

Wat op Senekal gebeur het, bewys dat vrede slegs volhoubaar is as ’n gemeenskap saamwerk na dieselfde doel, soos met die huidige opruimingswerk in die geplunderde dele van die land.

Nkele Galedzana, ’n jong gemeenskapsleier in Alexandra wat die CleanAlex-opruiming verlede Saterdag gereël het. Sy is ook betrokke by die organisering van Senekallers se hulp Donderdag in die township. By haar is Barend la Grange, voormalige bedryfshoof van South Africa Day, wat gehelp het om Senekal te vernuwe. La Grange is deesdae betrokke by die Privilege-stigting, ’n organisasie wat hom vir skoolkinders se behoeftes beywer.

So sê die forum wat gehelp het om Senekal in die Oos-Vrystaat te vernuwe nadat rassespanning in Oktober verlede jaar hier op die spits gedryf is in die nadraai van die plaasmoord op die 22-jarige Brendin Horner.

Talle lede van die Senekal-Matwabeng-gemeenskapsforum gaan Donderdag by die geplunderde Alexandra in die Johannesburg-metro in Gauteng help opruim.

Barend la Grange, voormalige bedryfshoof van die nieregeringsorganisasie South Africa Day wat ook by die forum betrokke is, sê Senekal is ’n goeie voorbeeld van ’n gemeenskap wat ná trauma kan saamstaan en ’n dorp vernuwe. Hy hoop Senekal stap Sondag met die louere weg as Dorp van die Jaar.

Die groot verskil, sê hy, het gekom toe mense daadwerklik begin saamwerk het en dit nie net by vredespraatjies gebly het nie.

“Elkeen kom met ’n agenda na ’n vredesonderhandeling. Wanneer mense se agendas begin ooreenstem, dán is vrede volhoubaar.”

Die feit dat hulle behoeftes aangepak het wat ryk en arm raak, het daartoe gelei dat mense wíl saamwerk.

Wanneer mense se agendas begin ooreenstem, dán is vrede volhoubaar.

“Die dorp is skoon, dis mooi met meer as 5 000 slaggate wat herstel is. Die tuine is mooigemaak, ryk en arm het water en daar is ’n memorandum van verstandhouding met die munisipaliteit.”

Behalwe dat ’n gemeenskap ’n gemeenskaplike doel moet vind, moet mense gemobiliseer word vir ’n projek wat almal raak.

Daar word skoongemaak dat die biesies bewe in Alexandra. Mense van Senekal gaan Donderdag ook hier inspring en help opruim.

Past. John Mathuhle van Senekal dien ook in die forum. Hy sê inwoners van ’n dorp het soms juis ’n skok nodig om te vernuwe.

Toe wit en swart inwoners ná die gebeure op 16 Oktober vergader, was daar botsende belange. Die oplossing sou net kom in ’n kompromie.

“Die verandering het gekom toe ons vir mekaar begin sê: ‘Ek hoor jou pyn, en ek is bereid om te luister.’ ”

Mense was aanvanklik emosioneel en dan neig hulle om “terug te trek in hul vel”.

“As hulle bedreig word, klim hulle terug in hul eie kultuur. God en die behoeftes van die gemeenskap was die dryfkrag van eenheid.”

Die ommeswaai in Senekal was danksy die feit dat hulle proaktief was om ’n burgeroorlog te voorkom.

“Nou het ons ’n nuwe energie. Ten minste het hier ’n positiewe ding uitgekom waar mense besef hulle kan nie meer vir die regering wag nie. En dieselfde geld vir gebiede soos Alexandra.”

Meer oor:  Senekal  |  Alexandra  |  Plundering  |  Kzn-Herstel  |  Opruimingswerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.