Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Seriti-'klugspul was te wagte'
Regter Willie Seriti. Foto: Brendan Croft

’n Totale klugspul.

Dít is hoe kenners, ingeligtes en politici pres. Jacob Zuma se aankondiging oor die Seriti-kommisie se bevindings oor die wapentransaksie beskryf het.

Zuma het Donderdag gesê die kommissie het ná ’n ondersoek wat vier jaar geduur en R113 miljoen gekos het geen bewyse van ongerymdhede, bedrog of omkopery in Suid-Afrika se omstrede multimiljardrand-wapentransaksie gevind nie.

Terry Crawford-Browne, een van die hoofgetuies in die kommissie, het gesê dié uitslag was te wagte aangesien die ondersoek uit die staanspoor geen geloofwaardigheid gehad het nie.

Die werklike bewyse van korrupsie in die wapentransaksie van R70 miljard is steeds nie opgediep en ondersoek nie.
Terry Crawford-Brown

“Die wapentransaksie was die eerste tree in die president se pogings tot ’n algehele staatskaping,” het hy gesê. “Dit was van die begin af duidelik dat die Seriti-kommissie ’n goedpratery daarvan en ’n klugspul sou wees.”

Crawford-Browne het gesê die werklike bewyse van korrupsie in die wapentransaksie van R70 miljard is steeds nie opgediep en ondersoek nie. Die regte dokumente wat bewyse bied, lê in twee skeepvraghouers op ’n perseel van die Valke in Pretoria en niemand het toegang daartoe nie,” het hy gesê.

“Daar is geen manier wat die transaksie in ooreenstemming was met art. 217 van die Grondwet nie. Daarvolgens moet staatsaankope geskied volgens ’n stelsel wat regverdig, deursigtig en kostedoeltreffend is.”

Hennie van Vuuren, medeskrywer van die boek, Devil in the Detail: How the Arms Deal Changed Everything, het gesê ook hy is geensins verras oor die bevindings nie.

“Nie net is al die getuienis voor die kommissie nie oorweeg nie, maar sleutelbewyse wat die kommissie in sy eie ondersoek gevind het, is eenvoudig geïgnoreer.”

Op die vraag of die wapens en toerusting wat aangekoop is, gebruik word of nie, het Zuma gesê die kommissie het bevind al die wapens en toerusting word goed gebruik.

Volgens David Maynier, DA-woordvoerder oor verdediging, kan dié bevinding egter onmoontlik korrek wees.

“Dis beslis nie ’n geloofwaardige bevinding nie, bloot as jy in ag neem dat die Gripen- en Hawk-eskaders moontlik toegemaak moet word,” het hy gesê.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-woordvoerder, het gesê sowat 20 Gripen-vegvliegtuie staan in onbruik in ’n pakhuis.

“As daar geen ongerymdhede is nie, kan ’n mens met reg vra waarom Schabir Shaik en Tony Yengeni skuldig bevind en tronk toe gestuur is vir ongerymdhede wat met die wapentransaksie verband hou,” het hy gesê.

Patricia de Lille, wat destyds die fluitjie oor die wapenskandaal geblaas het, het gesê die kommissie se bevindinge is ontwerp om te bewys oudpres. Thabo Mbeki was nie geregverdig om Zuma af te dank nie, terwyl sy kameraad Schabir Shaik skuldig bevind en tronk toe gestuur is, net om weer deur Zuma vrygelaat te word.

Sy het gesê die kommissie was ’n mors van belastingbetalers se geld.

“Die skade wat dit ons openbare stelsels en die publiek se vertroue berokken het, is veel groter as die geldelike koste van die proses,” het Van Vuuren gesê. “Daarom is dit belangrik dat die publiek aanhou aandring op antwoorde, ook met die oog op soortgelyke ondersoeke in die toekoms.”

Die ANC het die verslag verwelkom en gesê hy hoop dit bring ’n einde aan aantygings van wanoptrede gedurende die wapentransaksie.

Meer oor:  Pres.Jacob Zuma  |  Seriti-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.