Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sexwale skop sy hakke in oor ‘Erfenisfonds’
Tokyo Sexwale Foto: Argief

Hy is g’n ’n slagoffer van enige bedrogspul nie en volstaan by sy uitlating dat ’n geheime “Erfenisfonds” van miljarde rande besteel is.

Dit was Donderdagmiddag die reaksie van oudminister Tokyo Sexwale, ’n ANC-veteraan, op kritiek teen sy uitlatings dat miljarde rande van dié beweerde fonds weg is.

Sy beweringe is vroeër deur onder meer die nasionale tesourie en die Reserwebank verwerp en hy is wyd oor sy uitlatings gekritiseer.

Die Reserwebank sê ’n ondersoek het nie die bestaan van so ’n fonds aan die lig gebring nie.

Sexwale sê as ’n voormalige vryheidsvegter is hy gewoond aan aanvalle teen hom, maar as ’n leier is dit sy verantwoordelikheid om Suid-Afrikaners in te lig oor wat werklik gebeur.

“Ek is nie die slagoffer van enige bedrogspul nie. Wie bedrieg vir wie?”

Hy sal namens die armes praat en hulle beskerm.

“Ek is nie bang nie.”

Sexwale, ’n gewese premier van Gauteng, hou vol hy is een van twee gemagtigdes in Suid-Afrika van die sogenaamde “Erfenisfonds” van ’n “baie magtige familie” in die wêreld.

Ek is nie die slagoffer van enige bedrogspul nie. Wie bedrieg vir wie?

Hyself het nie enige geld in die fonds belê nie. “Ek werk vir die fonds. Hy is te groot en het nie my geld nodig nie.”

Hy hou vol die fonds is “in die Reserwebank” onder die

“White Spiritual Boy Trust” van ’n buitelandse skenker.

Dié fonds is in staat om miljarde rande te skenk vir onder meer gratis tersiêre onderrig, Covid-19-verligtingshulp en infrastruktuurontwikkeling.

Tito Mboweni, minister van finansies, het vroeër vandeesweek getwiet dat Sexwale se uitlatings “onwaar en hartseer is en dit blyk dat hy die slagoffer van vele bedrogspulle is”.

Hy sê geld wat in die Reserwebank oorgedra is, kan nie daaruit gesteel word nie.

“Hoe?”

Sexwale se bewering dat geld van die “fonds” gesteel is, het daartoe gelei dat ’n strafregtelike klag teen pres. Cyril Ramaphosa by die polisie aanhangig gemaak is.

Sexwale sê hy het vergeefs probeer om die kwessie onder die aandag van die regering en die Reserwebank te bring.

Sexwale het weer gesê sowel Ramaphosa as oudpres. Jacob Zuma weet van die bestaan van die fonds.

“Dit is hoekom hy – slim politikus wat hy is en omdat hy van die fonds geweet het – kort voor die Nasrec-konferensie (van die ANC) gratis tersiêre onderrig aangekondig het.

“Vra hom hoekom hy dit gedoen het terwyl hy geweet het daar is nie geld in die begroting nie. Die waarheid kom stadig maar seker uit.”

Dit is hoekom hy – slim politikus wat hy is en omdat hy van die fonds geweet het – kort voor die Nasrec-konferensie (van die ANC) gratis tersiêre onderrig aangekondig het.

Op sy beurt het Ramaphosa in sy staatsrede gepraat van sy drome vir ’n slimstad “want hy het geweet daar is geld”.

Sexwale, wat sê hy ondersoek die kwessie al langer as twee jaar, het ’n beroep op lede van die publiek wat enige kennis dra van die diefstal, om bewyse daarvoor aan die polisie te gee.

Hy meen ook internasionale wetstoepassingsagentskappe moet in kennis gestel word en ondersoekende joernaliste behoort ook aandag te gee aan dié saak.

Sexwale het ontken sy onthullings is ’n aanval op die ANC. “Die ANC is my party.”

Fanie Fondse, ’n onafhanklike direkteur van die Reserwebank, het aan die TV-kanaal Newzroom Afrika gesê hy weet self van die fonds en hy “ken die eienaars van die fonds persoonlik”.

Meer oor:  Erfenisfonds  |  Tokyo Sexwale  |  Anc-Faksies  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.