Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Shivambu en Rupert is nié vriende, sê EFF

Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, het Sondagaand ontken dat hy bande met Johann Rupert, een van die rykste mans in Suid-Afrika, het.

Die ontkenning volg nadat Pieter du Toit, assistentredakteur van News24, geskryf het oor Shivambu en Rupert wat op ’n wynplaas in Stellenbosch sou gekuier het in sy boek The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaires' Club.

Shivambu het glo Rupert se hulp gevra om ’n hospitaal in Limpopo te bou.

Floyd Shivambu

Die EFF het al dikwels vir Rupert ’n vyand van die party genoem en hom bestempel as die gesig van witmonopoliekapitaal wat ryk geword het deur swart, arm Suid-Afrikaners uit te buit.

Du Toit skryf in sy boek dat Shivambu ook na Jannie Durand, Remgro se uitvoerende hoof en na die Fleur du Cap-wynlandgoed, wat ook deur Remgro besit word, gegaan het.

Shivambu, ’n uitgesproke kritikus van wit kapitaal, is na bewering nader aan Rupert as wat hy aan die wêreld wil voorgee.

Shivambu het egter dié onthullings as onwaarhede op Twitter afgemaak, waarna hy ’n EFF-verklaring daaroor gedeel het.

Johann Rupert

Hy sê dit is feite dat hy geen verhouding met die Ruperts het nie, dat hy nog nooit vir Rupert om enige hulp genader het nie, dat hy nooit enige hulp van Rupert ontvang het nie en dat wit kapitaal steeds die primêre vyand bly.

Die EFF sê in ’n verklaring dat Rupert aandele het in onder meer MediClinic, eNCA, UniLiver, Total, FNB, WesBank, Discovery, Outsurance. Shivambu is in 2017 deur ’n groep swart mense wat ’n hospitaallisensie gehad het, genader om te help om hulle in verbinding te kry met ’n goeie hospitaalgroep omdat hulle gesukkel het om dit reg te kry.

“Ons adjunkpresident het in Augustus vir iemand by die MediClinic geskryf om ’n vergadering met hul verteenwoordiger te reël,” sê die EFF in hul verklaring.

Die EFF sê Shivambu het tydens die staatsrede vir pres. Cyril Ramaphosa gesê dat dit hom bekommer dat die witmonopoliekapitaal opgewonde is omdat hy tot president verkies is.

“Ons adjunkpresident het daarna ’n boodskap van Rupert ontvang, met ’n video waarin hy (Shivambu) sê dat die witmonopoliekapitaal te gemaklik met die president is,” lui die verklaring.

Rupert het glo in dié boodskap aan Shivambu gesê dat hy nooit enigiets gesteel het nie en teleurgesteld in Shivambu is oor die nonsens wat hy kwytgeraak het.

“Ek het gedink jy is meer eerbaar en slimmer as dit. Tot siens en sterkte,” het Rupert glo gesê, waarna Shivambu glo geantwoord het dat hy homself met mense moet omring wat politieke dinamika verstaan.

Rupert het glo teruggekap dat hy baie mense geken het wat ouer as Shivambu is, mense soos Steve Biko en oudpres. Nelson Mandela en hulle het hom nooit so oneerbiedig behandel soos Shivambu hom behandel nie.

Shivambu het glo geantwoord dat hulle nog nooit Rupert se vriende was nie en dat hulle nooit voorgegee het om vriende met Rupert te wees nie.

“Net omdat ons met jou gepraat het, beteken dit nie ons is vriende nie. Jy moet my nooit weer kontak nie,” het Shivambu glo gesê.

Shivambu het toe glo ook gesê dat Rupert mense mislei het deur vir hulle te sê dat hy en Shivambu vriende is.

“Ek is nie een van daardie poppe met wie jy jouself omring wat net gaan ‘ja baas’ sê wanneer jy met hom praat nie,” het Shivambu volgens die verklaring gesê.

Die EFF het ’n beroep op EFF-lede gedoen om nie toe te laat dat die “Stellenbosch Mafia” hul aandag van belangriker sake aflei nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.