Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Shivambu op oorlogspad oor Zondo-bewerings

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, was Sondag op die oorlogspad weens bewerings dat hy en Julius Malema, sy partyleier, in die visier van die Zondo-kommissie is.

Kenners sê egter as die twee niks het om weg te steek nie, hoef hulle nie bekommerd te wees dat die kommissie se ondersoekers in hul geldsake rondkrap nie.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA  OCTOBER 16: (SOUTH AFR
Floyd Shivambu Foto: Gallo Images

Dit volg nadat die Sunday Times Sondag berig het dat die kommissie sy ondersoek na staatskaping uitgebrei het deur groot banke te dagvaar vir finansiële rekords van bankrekeninge wat met Shivambu en Malema verband hou.

Shivambu het Sondag in ’n twiet beweer die Zondo-kommissie het ’n politieke agenda.

“Noudat Zondo en die administrateurs van die staatskapingskommissie misluk om die Guptas in ’n hoek in te dryf, gebruik hulle die kommissie om die politieke gevegte van Jamnadas (Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings) en die wit kapitalistiese establishment te veg. Ons sal hul misleidende politieke agenda ontbloot. Walglik!” lui die twiet.

Luidens die Sunday Times wil die kommissie onder meer die geldsake bekyk van Malema se vrou, Mantoa, sy oorlede ouma Sarah, sy prokureur Ian Levitt, sy Ratanang-familietrust en ’n klompie maatskappye wat aan hom en sy vennote verbind word.

Luidens die berig is die finansiële rekords van Shivambu se broer, Brian, wat na bewering onwettig geld van die omstrede VBS-bank ontvang het, ook op die kommissie se radar.

Daar word al lank berig oor die EFF se beweerde aandeel in die meer as R2,2 miljard wat uit die bank geplunder is.

Die Ratanang-trust kom ook ter sprake in die On-Point Engineering-tenderskandaal van jare gelede.

Die staat het destyds aangevoer dat Malema onregmatig voordeel getrek het uit die tender en die geld gebruik het om vir hom ’n plaas en ’n BMW te koop.

Die saak is egter in 2015 van die hofrol geskrap nadat een van Malema se medebeskuldigdes siek geword het.

Malema en Shivambu het albei al in die verlede ten sterkste ontken dat hulle enigiets onwettigs gedoen het.

Julius Malema, EFF-leier. Foto: Lucky Morajane/Daily Sun

Adv. Paul Hoffman, direkteur van die burgerregte-organisasie Accountability Now, het by navraag die beweringe oor die kommissie se ondersoek verwelkom.

“Malema en Shivambu is dit aan die publiek verskuldig om hul kant van die saak aan die kommissie te kom stel ná beweringe in die media dat hulle voordeel getrek het uit geplunderde geld van VBS,” sê hy.

Indien die EFF-leiers verkeerd opgetree het, sal die Zondo-kommissie se ondersoek volgens Hoffman die proses bespoedig dat die NVG hulle vervolg.

Ingevolge nuwe regulasies wat pres. Cyril Ramaphosa geproklameer het, mag die Zondo-kommissie bewysstukke vir vervolging aan die NVG oorhandig.

“Hoewel die NVG erg onderbefonds is, beskik die Zondo-kommissie oor van die voorste kenners en goeie toerusting om ondersoeke af te handel,” sê hy.

Volgens hom hou die VBS-kwessie wel vaagweg verband met staatskaping omdat munisipaliteite belastingbetalers se geld destyds onwettig in die bank belê het.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder aan die Nelson Mandela-universiteit, sê Shivambu, wat die kommissie van ’n politieke agenda beskuldig, volg die voorbeeld van oudpres. Jacob Zuma, wat ook soortgelyke beskuldigings na die kommissie slinger.

Hoewel die NVG erg onderbefonds is, beskik die Zondo-kommissie oor van die voorste kenners en goeie toerusting om ondersoeke af te handel.

“Hy gaan egter nie daardeur slaag om die kommissie te ontwapen nie. As Malema en Shivambu niks het om weg te steek nie, hoef hulle nie teenkanting teen die ondersoek te bied nie.”

Hy wys daarop dat die EFF destyds die stigting van die Zondo-kommissie gesteun het.

Dr. Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê die EFF kan nie aanvoer dat sommige voor die kommissie moet verskyn, maar dan aanvallend optree wanneer die kommissie ook sy soeklig op die EFF gooi nie.

“Joernaliste het al verskeie onthullings gemaak oor die EFF se beweerde betrokkenheid by VBS, maar pleks daarvan om hul kant van die saak te stel of publikasies in die hof te dagvaar, het die EFF joernaliste beledig. Die kommissie gaan nou hopelik vir hulle die geleentheid bied om hul kant van die saak te stel. Hulle skuld die publiek ’n verduideliking,” sê Mathekga.

Netwerk24 het vroeër berig dat die Zondo-kommissie sy aandag op die bankrekenings van Zuma se kinders gevestig het. Die Sunday Times het Sondag boonop berig dat verskeie politici in KwaZulu-Natal in die visier van die kommissie is.

Een van hulle is glo Zandile Gumede, uitgeskopte burgemeester van die eThekwini-metro, wat van korrupsie aangekla word, en wat onlangs ’n pos in die KwaZulu-Natalse wetgewer aangebied is.


Meer oor:  Floyd Shivambu  |  Julius Malema  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.