Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sien suksesse in stryd teen korrupsie raak, vra JP

Die suksesse week ná week van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en spesiale tribunaal, wat geld probeer terugkry wat die staat weens staatska­ping of onreëlmatige besteding verloor het, moet nie misgekyk word nie, sê die politieke ontleder JP Landman.

In die jongste deurbraak het die tribunaal die afgelope week beveel dat bates van meer as R40 miljoen bevries word van maatskappye en hul direkteure wat voordeel getrek het uit on­reëlmatige tenders vir die ontsmetting van Gautengse skole tydens die Covid-19-pandemie. Die ondersoek na R431 miljoen se potensieel wederregtelike kontrakte vir die ontsmetting is nog nie afgehandel nie.

Verlede jaar is sowat R18 miljoen se bates van Herbert Msagala, voormalige hoof van kapitaalprojekte by Transnet, bevries. Die tribunaal het pas sy aansoek om verlof tot appèl teen die beslissing van die hand gewys.

Pres. Cyril Ramaphosa het die spe­siale tribunaal in 2019 aangestel om die proses te versnel om staatsgeld terug te kry wat deur korrupsie, bedrog en onreëlmatighede verloor is.

Solank hy gesond bly, is Ramaphosa vir die volgende sewe of agt jaar ons man.

Volgens Landman fokus baie mense daarop dat skokkende getuienis weekliks gelewer word voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, maar dat niemand tot dusver in ’n hof verhoor of tronk toe gestuur is nie.

Die Zondo-kommissie sit egter nog en eers wanneer adjunkhoofregter Raymond Zondo sy bevindinge in sy finale verslag vervat, kan daar beweging wees, verduidelik Landman.

Hy was Woensdag die gasspreker op ’n besprekingsgeleentheid van Nedbank Private Wealth oor hoe Suid-Afrika se politiek die ekonomie beïnvloed.

Volgens Landman maak die SOE en spesiale tribunaal ’n baie groot verskil om miljoene rande vir die staat terug te kry. Dit sal baie langer neem om dié geld deur strafregtelike vervolgings en hofverrigtinge te verhaal, sê hy.

Ander suksesse van die SOE en tribunaal sluit in:

* Deloitte Consulting het R150 miljoen aan Eskom terugbetaal;

* ’n Kontrak van R5 miljoen wat die KwaZulu-Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling onreëlmatig toegeken het, is tersyde gestel; en

* R127 miljoen se onreëlmatige betalings deur die staat vir persoonlike beskermende toerusting is teruggevind.

Landman sê dit vorm deel van die regering se “optrede op alle vlakke”.

So ook die besluit dat ANC-leiers wat in die howe teregstaan op aanklagte van korrupsie opsy moet staan. “Party het al gegaan en hulle sal almal gaan. Ons sien verantwoordbaarheid.”

Hy sê Ace Magashule, wat weier om opsy te staan as die ANC se sekretaris-generaal, is al behoorlik “geklap” en “nog kom”.

Op ’n vraag van Andrew Mackenzie, hoof van portefeuljebestuur by Nedbank Private Wealth, oor hoe sterk Ramaphosa in die saal sit binne die ANC, het Landman gesê Ramaphosa is in beheer. Dit blyk onder meer uit die optrede teen en besluite oor Magashule.

Hy sê wat baie beleggers miskyk, is dat Ramaphosa net optree en beweeg as hy weet hy kan wen. Volgens Landman is Ramaphosa verseker van ’n tweede termyn as ANC-leier en president van die land.

“Ek is bly om te sien hulle pas hom mooi op. En solank hy gesond bly en sy gereelde oggendwandelinge onderneem, is Ramaphosa vir die volgende sewe of agt jaar ons man.”

Landman sê hy het in sy boek The Long View in 2013 geskryf hoe belangrik dit is dat Suid-Afrika ’n oop gemeenskap bly. Dat dit tog steeds die geval is, blyk daaruit dat Ramaphosa vandag president is nadat oudpres. Jacob Zuma verwyder is.

Hy is ook bemoedig deur tekens dat ’n nuwe gesindheid teenoor korrupsie besig is om pos te vat en dat kiesers goed “gatvol” vir korrupsie is.

Ramaphosa is volgens hom besig om die grootste deel van die ANC van een wêreldbeskouing na ’n ander te begelei oor kwessies soos korrupsie, energie en voorgeskrewe bates.

Daar is “baie tekens” dat ons op die regte pad is met strukturele hervorming en regeringsbeleid, reken Landman. Dit sluit in Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se aankondiging die afgelope week in sy begroting dat die ontbondeling van Eskom om ’n afsonderlike eenheid vir die transmissienetwerk te skep teen einde vanjaar afgehandel behoort te wees.

Dis ’n aansienlike politieke prestasie, aldus Landman. Toe dit die eerste keer twee jaar gelede in die staatsrede genoem is, was die teenkanting akuut.

“Daar is die afgelope twee jaar hard agter die skerms gewerk om ons by die punt te kry.” Landman sê teen die einde van Ramaphosa se twee termyne sal hy die taak afgehandel het om ’n hele generasie sekere denke te laat afleer en opnuut te leer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.