Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Singh het op elke vraag oor geld ’n antwoord,’ hoor Zondo

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, het vir elke vraag oor waarom Transnet bereid was om duurder as wat nodig was te betaal vir die verkryging van lokomotiewe ’n antwoord gehad.

Yousuf Laher, wat as ’n finansiële bestuurder onder Singh by Transnet gewerk het, het Woensdag voor die Zondo-kommissie getuig hy is ’n ooggetuie van wat gebeur het toe Transnet drie groot kontrakte aangegaan het:

• Vir die verkryging van 1 064 lokomotiewe;

• ’n Onverwagse verdere verkryging van nog 100 lokomotiewe teen R4,5 miljard; en

• Die plan om lokomotiewe eerder in ’n aanleg in Durban aanmekaar te sit pleks van die oorspronklike plan om dit in Koedoespoort buite Pretoria te doen.

Yousuf Laher, wat as ’n finansiële bestuurder by Transnet gewerk het, getuig Woensdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Voorheen is getuienis voor die kommissie aangehoor dat die aanvanklike koste om die 1 064 lokomotiewe te lewer R38 miljard sou wees, maar Transnet was bereid om uiteindelik byna R50 miljard te betaal.

Oor die ekstra 100 lokomotiewe wat verkry is, het Laher getuig Singh het in 2014 aan hom genoem dat die Transnet-direksie die verkryging van ’n ekstra 100 lokomotiewe goedgekeur het as ’n geslote tender met die maatskappy South China Rail.

Volgens Laher was hy verbaas daaroor, want Transnet het pas die 1 064 lokomotiewe gekoop.

Hy het getuig dat Singh hom gevra het om die pryse vir die lokomotiewe uit te werk, en volgens sy berekening kon R41 miljoen per lokomotief betaal word, inaggenome allerlei faktore soos die wisselkoers, watter dele van die lokomotiewe in Suid-Afrika vervaardig kan word asook die krag van die lokomotiewe.

Nadat daar onderhandel is, het Singh teruggekeer en gesê Brian Molefe, toe die uitvoerende hoof van Transnet, het besluit Transnet is bereid om R44 miljoen per lokomotief goed te keur.

Volgens Laher het hy aan Singh genoem die verkeerde wisselkoers is gebruik volgens die nuwe prysbepaling, en ’n ekstra R2,4 miljoen per lokomotief word nou volgens dié verkeerde berekening betaal.

Ek het gesê ons is ’n treinmaatskappy. Hoekom moet ons ’n ander tipe vervoer gebruik om die goedere na Durban te skuif?

Hierop het Singh gesê die Transnet-direksie het klaar die betaling goedgekeur – “soms verloor ’n mens en soms wen jy,” – maar vir hom is die prys aanvaarbaar.

Laher het getuig hy moes Singh se besluit respekteer gegewe Singh se senior posisie. “Hy was lid van die Transnet-direksie. Daardie jaar het hy ’n prys gewen as Finansiële Beampte van die Jaar. Wanneer hy praat, is dit met gesag,” volgens Laher.

Oor die verskuiwing van die lokomotief-aanleg vanaf Koedoespoort na Durban, het Laher getuig hy is deur Singh opdrag gegee om die koste daarvan uit te werk. Hy het verskeie risiko’s aan Singh uitgewys, onder meer dat die koste uitermatig groot gaan wees. Daar is van Transnet verwag om die goedere na Durban te verskuif met padvervoer, terwyl Transnet juis beskik oor vragtreine wat die goedere kan vervoer.

“Ek het gesê ons is ’n treinmaatskappy. Hoekom moet ons ’n ander tipe vervoer gebruik om die goedere na Durban te skuif?”

Ewe skielik is daar ook ekstra items in die kontrak ingevoeg, soos dat meer vurkhysers verkry moet word. “Net omdat die aanleg in Durban gaan wees, het ’n mens nie ekstra vurkhysers nodig nie,” het Laher getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.