Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Singh skerm vir 'n vale oor Gupta-e-pos

’n Uiteensetting van die presiese betalings wat Gupta-verwante entiteite van Transnet sou ontvang het, is direk per e-pos na Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, gestuur.

Maar Singh sê hoewel hy dié e-posboodskap oopgemaak het, het hy nie geweet dat dié inligting deel daarvan was nie.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, het Vrydag met Singh se getuienis gevra hy moet verduidelik waarom die e-posboodskap aan hom gestuur is en wat sy optrede daarna was.

Die e-posboodskap wat aan Singh gestuur is, was van Eric Wood, vennoot van die maatskappy Regiments wat daarna die maatskappy Trillian saam met Salim Essa gestig het. Daarin is ’n lys van agterstallige, onbetaalde fakture wat Regiments aan Transnet gestuur het.

Singh is gevra waarom hy as hoof van finansies met so iets soos ’n lys van fakture van ’n diensverskaffer belas is. Hierop het Singh getuig die konteks is dat Wood met hom ’n gesprek sou gehad het oor onbetaalde fakture en dat die e-posboodskap daarna aan hom gestuur is sodat hy dit verder kon neem.

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Myburgh het aan Singh gesê die e-pos bevat nie net die lys van fakture nie, maar indien ’n mens op die elektroniese state sou kliek, het dit ook die inligting bevat van die persentasie wat uit elke faktuur aan frontmaatskappye van die Guptas betaal sou word.

Singh het hierop gesê hy weet nie hoe die rekeningkundige program werk nie en het nie geweet daar is ekstra inligting beskikbaar sou ’n mens op sekere sleutels kliek nie.

Myburgh het dit aan Singh gestel dit is ’n basiese rekeningkundige program.

“Wat baie vreemd is, is dat Wood jou met dié inligting vertrou het. Dit is Wood wat die e-posboodskap saamgestel en aangestuur het en volgens die inligting daarby is dit op jou versoek aan jou gestuur.

“Is dit normale prosedure dat die finansiële hoof van groot entiteit soos Transnet hom besig hou met fakture?”

Singh het geantwoord hy het nie geweet die e-pos bevat die inligting nie en hy weet nie of Wood geweet het die e-pos bevat die inligting nie.

By Eskom, waar Singh finansiële hoof was nadat hy van Transnet daarheen is, was daar groot kritiek teen Singh omdat hy hom daar ook met die hantering van uitstaande fakture bemoei het, volgens Myburgh.

Singh het geantwoord dit is nie ongehoord nie.

Wat baie vreemd is, is dat Wood jou met dié inligting vertrou het. Dit is Wood wat die e-posboodskap saamgestel en aangestuur het en volgens die inligting daarby is dit op jou versoek aan jou gestuur.

Myburgh het verwys na die Gupta-verwante frontmaatskappye Chevita, Homix en Albatime wat in die rekeningstate genoem is, en gevra of Singh niks geweet het van die betalings wat aan dié maatskappye gemaak is nie.

Singh het ontken dat hy daarvan geweet het.

“Om rekeningkundige state te kan lees, is jou brood en botter – is jy nie vertroud daarmee om inligting raak te sien nie?”

Singh se antwoord hierop was: “Nie noodwendig nie.”

Singh getuig Maandag verder.

• Paul Holden, ’n onafhanklike ondersoeker van die nieregeringsorganisasie Shadow World Investigations, het Maandag voor die kommissie getuig hoe die Guptas se beweerde internasionale skema van geldwassery glo gewerk het en hoe frontmaatskappye gebruik is om geld wat glo bedrieglik uit tenders gemaak is, na bewering uiteindelik na Gupta-rekeninge te kanaliseer.

Meer oor:  Transnet  |  Anoj Singh  |  Guptas  |  Betalings  |  E-Pos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.