Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Singh ‘óf deel van stropery óf erg onbevoeg’ – Zondo

“Óf jy was deel van die Guptas se agenda, mnr. Singh, óf jy was só uiters onbevoeg dat jy niks hiervan kon raaksien nie.”

Dít was die woorde van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, Donderdag aan Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MAY 27: Former Chief
Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Gallo Images

Zondo het dit aan hom gestel dat betalings van meer as R49 miljard met die onreëlmatige staatskontrakte van die Guptas verbind word, waarvan ’n massiewe deel van dié stroping met Transnet-kontrakte was.

“Dit is wat die Guptas by Transnet gedoen het terwyl jy daar was, en jy was betrokke by die transaksies,” het Zondo dit aan Singh gestel.

Volgens hom was Singh óf deel van die Guptas se agenda óf onbevoeg, of daar is ’n ander moontlikheid, maar hy kan nie aan een dink nie.

Singh het hierop geantwoord dit was nie een van die moontlikhede nie. As dit die manier is hoe Zondo daarna kyk, is dit baie moeilik om aan hom te verduidelik wat gebeur het, het Singh gesê.

Zondo het toe vir Singh daarop gewys dat die kommissie al drie jaar bewyse insamel. Dit is ’n kommissie van ondersoek en een van die vrae wat gevra moet word, is hoe staatskaping gebeur het en watter maatreëls ingestel moet word om te verhoed dat dit weer gebeur.

Het die mense wat deel was van die staatskaping geweet wat hulle doen, was hulle dalk onbevoeg, of kan daar dalk ’n ander moontlikheid wees, het Zondo weer aan Singh gevra.

Hierop het Singh geantwoord dit is nie onbevoegdheid aan sy kant nie. Hy was nie alleen betrokke daarby om die transaksies te begin of af te handel nie.

Zondo het aan Singh gesê daar is getuienis dat hy meer betrokke by die Guptas was as wat hy die kommissie wil laat glo.

“Vir die kommissie om sy werk behoorlik te doen, moet die vraag beantwoord word hoe die stroping gebeur het. Het mense net by die werk geslaap? Het daar mense in staatsentiteite met diegene saamgewerk wat ’n agenda gehad het om dit te doen?” Daar is mense soos Singh teen wie daar allerlei bewerings is en hy moet die geleentheid kry om sy kant te stel, aldus Zondo.

Indien ek onbevoeg opgetree het, kon die direksie gesê het ek praat nonsens en moet gaan.

Singh het geantwoord wanneer die onderskeie transaksies van nader beskou word, wys dit dat hy nie in isolasie opgetree het nie. Daar was omstandighede wat wys waarom Transnet sekere bates moes bekom, Transnet se oudit-afdeling is betrokke en dokumente is nagegaan, daar was ’n groep van 14 tot 16 lede op die Transnet-direksie wat betrokke was. “Indien ek onbevoeg opgetree het, kon die direksie gesê het ek praat nonsens en moet gaan,” het Singh geantwoord.

Singh is ook gevra oor ’n tweede getuie wat ’n beëdigde verklaring by die kommissie ingedien het dat hy (Singh) saam met die Gupta-meeloper Salim Essa ’n vergadering by ’n restaurant in Melrose Arch gehou het saam met die twee getuies, albei verbonde aan die ingenieursmaatskappy Hatch.

Singh het vantevore die getuienis van Henk Bester van Hatch ontken dat hy ooit by ’n vergadering was met Bester waar Essa teenwoordig was.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Singh gestel sedert sy vorige getuienis het ’n tweede persoon, Craig Sumption, ook van Hatch, die vergadering bevestig.

Singh het volgehou daar was nooit so ’n vergadering nie.

In Sumption se beëdigde verklaring bevestig hy Bester se weergawe dat Essa eerste by die restaurant was en dat hy en Bester nie geweet het wat Essa se rol is nie. Bester en Sumption het na die restaurant gegaan om Singh te ontmoet.

Dit was egter Essa wat hulle ingewag het en ná ’n ruk gesê het hy gaan vir Singh bel, waarna Singh by hulle aangesluit het. In Sumption se verklaring sê hy die vergadering was baie vreemd. Singh was die finansiële hoof van Transnet, maar Essa het die vergadering gelei.

Nadat die inhoud van Sumption se verklaring aan Singh gestel is, het hy getuig dit is sy perspektief dat daar nie so vergadering was nie. Hy dink nie hy kan meer daaroor sê nie.

• Die kommissie het bevestig dat pres. Cyril Ramaphosa nie meer op 31 Mei en 1 Junie voor die kommissie gaan getuig nie. Dit is op versoek van die kommissie gedoen.

Ramaphosa en die kommissie werk saam om nuwe datums te bepaal. Zondo het gesê hy het versoek dat Ramaphosa eers later in Junie getuig wanneer al die ander mondelinge getuienis afgehandel is. Hy het gesê dat hy later in Junie die datums sal aankondig.

Meer oor:  Eskom  |  Anoj Singh  |  Zondo-Kommisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.