Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Singh ontken Essa betaal sy Dubai-vlugte

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom, weet glad nie hoe dit gebeur het dat vliegtuigkaartjies in sy naam bespreek is vir verskeie vlugte tussen Johannesburg en Dubai en dat dit blyk Salim Essa, sakevennoot van die Guptas, hiervoor betaal het nie.

Bewerings wat ’n reisagent hieroor in ’n beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gemaak het, is Dinsdag aan Singh gestel om te beantwoord.

Anoj Singh getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Die beweerde vlugte is onder meer:

• Op 8 Junie 2014 vanaf Dubai na Johannesburg teen ’n koste van R9 100;

• Retoervlugte vir Singh en sy vrou (in daardie stadium was hulle ’n paartjie) tussen 6 en 12 Augustus 2014 tussen Johannesburg en Dubai teen ’n koste van R60 000;

• Retoervlugte vir Singh en sy vrou tussen 6 en 9 November 2014 tussen Johannesburg en Dubai teen ’n koste van R55 775; en

• ’n Retoervlug vir Singh tussen 23 en 26 Februarie 2015 tussen Johannesburg en Dubai teen ’n koste van R31 000.

Singh is oor die onderskeie vlugte gevra na aanleiding van ’n beëdigde verklaring wat by die kommissie ingedien is deur ’n reisagent, Sameera Sooliman, wat in daardie stadium vir die agentskap Travel Excellence gewerk het.

Sooliman voer aan Essa het ’n rekening gehad by die agentskap. Essa het gewoonlik gebel of ’n e-pos gestuur en hy het baiekeer besprekings vir ander mense gedoen, hoewel dit vir sy rekening was. Essa het Singh in 2014 aan die reisagent bekend gestel en daarna het hulle in opdrag van Essa of Singh besprekings gedoen vir Singh, maar wat deur Essa betaal is, luidens Sooliman se verklaring.

Ten opsigte van die vlug op 8 Junie 2014 vanaf Dubai na Johannesburg voer Sooliman aan een van die twee, Essa of Singh, het gebel en gesê daar gaan ’n motorbestuurder gestuur word met kontant om die rekening van R9 100 vir die vliegkaartjie te vereffen. Die kwitansie is uitgemaak in Singh se naam.

Singh het gesê hy bevraagteken die korrektheid van die inligting in Sooliman se verklaring en dat haar verklaring deurspek is met foute.

Hy ontken dat hy opdrag gegee het dat die vliegtuigkaartjie vir hom bespreek word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê die vraag is of Singh op die dag van Dubai na Johannesburg gevlieg het, ongeag wie die bespreking gedoen het.

Singh het hierop geantwoord hy kan nie onthou nie, maar volgens inligting wat voor die kommissie verskaf is oor die tydperk toe hy aan Transnet verbonde was, was hy in daardie tyd op ’n amptelike besoek en hy sou vanaf Dubai gevlieg het.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Singh gestel die kwitansie was in sy naam, maar dit is deur Essa betaal en daar is ’n vliegtuigkaartjie in sy naam.

Singh het uitgewys dat daar op die vliegkaartjie staan dit is nietig (“void”). En wat die kwitansie betref, hy kan dit nie onthou nie en die kwitansie is onvoldoende. “Ek kon ook so ’n kwitansieboek gekry het en sulke kwitansies uitgeskryf het,” sê Singh.

Volgens Singh is nie sy handtekening of dié van die bestuurder wat volgens Sooliman die geld in kontant na die reisagentskap geneem het op die kwitansie nie.

Oor die retoervlugte in Augustus 2014 voer Singh aan hy en sy vrou het na Dubai gevlieg. Hy het dié vlugte bespreek.

Seleka sê volgens die kommissie se inligting is die koste van R60 000 deur Essa betaal deur ’n elektroniese oorplasing. Singh het geantwoord hy wil dit aan die kommissie stel dat Essa nooit enige betalings namens hom gedoen het nie. Hy voer ook aan dat die kwitansie vervals is.

Dan is daar ook die bewering dat Essa R55 775 betaal het vir vlugte van en na Dubai vir Singh en sy vrou in November 2014. Singh het bevestig hulle het die vlugte onderneem, maar sê hy het self hiervoor betaal. Hy kan nie onthou of hy die reisagentskap kontant of op ’n ander wyse betaal het nie.

Hy erken dat hy in Februarie 2015 na Dubai gevlieg het, maar sê hy het self daarvoor betaal. Hy kan nie onthou of hy dit gedoen het deur ’n drywer met kontant na die reisagentskap te stuur en of hy op ’n ander manier die rekening betaal het nie.

Meer oor:  Anoj Singh  |  Raymond Zondo  |  Ondersoek  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.