Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Singh raak siek toe hy oor miljoene in bank moet getuig

Anoj Singh het sy inkomste van miljoene rande in sy tyd as hoof van finansies by Transnet langer as drie jaar net so in ’n bankrekening gelos. In Oktober 2015 was daar meer as R19,8 miljoen in dié rekening.

So watter geld het Singh in dié tyd gebruik om van te lewe?

Dít is die vraag wat Vrydag aan hom gestel is toe hy verder voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.

Singh het Vrydagmiddag egter begin siek voel terwyl hy oor sy banksake uitgevra is, en die sitting is op sy versoek vroeg verdaag.

Hy het vroeër die dag in sy getuienis gesê hy het ’n probleem daarmee dat die kommissie slegs ’n ontleding van sy een bankrekening gebruik om hom vrae te vra. Volgens hom kan daar aan dié rekening gesien word dat hy iemand is wat ’n kultuur van spaar het.

Anoj Singh getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Hy het getuig sy uitgawes in die tydperk van drie jaar waaroor die kommissie hom uitvra, is betaal met geld wat hy in sy vorige tien tot 12 jaar as ’n werknemer van Transnet gespaar het.

Singh se bankstate van sy een FNB-rekening is Vrydag as bewysstukke by die sitting van kommissie ingedien nadat dit met ’n dagvaarding deur ’n ondersoeker van die kommissie bekom is.

Sy inkomste by Transnet is ook deur die menslikehulpbronne-afdeling van dié staatsentiteit aan die kommissie verskaf.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, het uitgewys dat Singh nie sy Transnet-vergoeding, wat by die FNB-rekening inbetaal is, vanaf Julie 2012 tot Julie 2015 gebruik het nie.

Daar was wel onttrekkings uit die bepaalde FNB-bankrekening van altesame R700 000, insluitend R450 000 wat hy na sy Absa-rekening oorgeplaas het, asook kontantonttrekkings en betalings by betaalpunte.

Op Myburgh se vraag hoe Singh sy daaglikse uitgawes in dié tyd betaal het, het hy geantwoord dat dit hom bekommer om hierdie vraag te beantwoord.

Hy het verwys na ’n gesprek wat hy en sy regsverteenwoordiger, adv. Annelene van den Heever, in Donderdag se sitting met adjunk-hoofregter Raymond Zondo en Myburgh gehad oor die toegang wat die kommissie tot die bankstate van sy een rekening verkry het.

Die bankstate van sy ander bankrekenings sal wys hoe hy vir sy leefstyl betaal het, het hy gesê.

Myburgh het sy vraag aan Singh herhaal: “Hoe het jy daarvoor betaal as jou inkomste van Transnet onaangeraak was?”

Zondo het gevra wat die bron was van die geld waarmee hy sy ander bankrekenings bedryf het.

Singh het sy antwoord herhaal dat die kommissie se ontleding van sy bankrekening kommerwekkend is en dat die kommissie sélf nie die antwoord op die vraag het nie.

Zondo wou by Singh weet of hy nie die vraag gaan antwoord nie, waarop hy gesê het dat sy inkomste van vorige jare by Transnet in ’n ander bankrekening was en dat dit die bron is.

Hy het gesê die kommissie het sy een bankrekening nagegaan, terwyl sy ander bankrekeninge ook ontleed moet word.

Hoe het jy daarvoor betaal as jou inkomste van Transnet onaangeraak was?

Myburgh het dit aan hom gestel dat dit nie so maklik is nie, en of hy reg verstaan dat Singh tot soveel as 12 rekenings by FNB gehad het, en dan ook talle rekenings by Investec, Capitec en Standard Bank.

Later het Myburgh hom gevra hoekom hy die geld in ’n lopende rekening gehou het waarop daar geen rente-inkomste was nie. Nadat hy die geld in 2016 na ’n beleggingsrekening oorgeplaas het, het hy R100 000 se rente-inkomste daaruit gekry.

Singh het toe gevra of die sitting vir twee minute kan verdaag sodat hy met sy regspan kan konsulteer.

Toe hy weer begin getuig het, het hy gesê hy het persoonlike redes gehad waarom hy nie die geld gebruik het nie.

Myburgh het gesê sy vraag is hoekom Singh die geld in ’n rekening gehou het waarop daar geen rente betaalbaar was nie.

Singh het gesê hy het die geld daar gehou om dit te kan onttrek indien hy dit vinnig nodig sou hê.

’n Bankier het hom aangeraai om die geld in geldmarkrekenings te belê, waarna hy dit toe gedoen het.

Myburgh het dit aan Singh gestel dat hy die hoof van finansies by Eskom en Transnet was, maar ’n bankier nodig gehad het om aan hom te verduidelik dat die geld in ander tipe bankrekenings rente kan verdien.

Zondo het bygevoeg: “Wat sê jy daarvan, mnr. Singh? Jy is hoogs opgelei in finansies. Hoekom het jy iemand van die bank nodig gehad om dié raad aan jou te gee?”

Singh het geantwoord hy het gedink dit het ’n lae rente-inkomste, maar die waarheid is dat dit geen rente-inkomste gehad het nie.

Zondo het gesê hy is nie seker of hy Singh se antwoord verstaan nie.

Ná nog vrae hieroor aan Singh het hy gevra vir ’n verdaging van tien minute. Daarna het sy advokaat gevra of die sitting kan verdaag, want Singh voel siek.

Zondo het die sitting verdaag en gesê hy sal later geroep word om verder te getuig.

Meer oor:  Transnet  |  Anoj Singh  |  Bank  |  Miljoene  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.