Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Singh se datums verwar ’n mens – Zondo

“Die verwarring hou nie op nie.”

Dit was Maandag die mening van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, ná getuienis deur Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, oor presies wanneer ’n dienskontrak met die internasionale konsultasiegroep McKinsey onderteken is.

Singh het aangevoer die beëdigde verklaring van dr. Alexander Weiss, ’n senior vennoot van McKinsey wat by die kommissie ingedien is, stem nie ooreen met dokumente wat beskikbaar is oor wanneer Eskom en McKinsey die kontrak onderteken het nie.

Anoj Singh, Eskom se voormalige hoof van finansies, getuig Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Singh sê die kontrak sou reeds voor 28 Junie 2016 onderteken gewees het. Weiss het in sy verklaring gesê McKinsey en Eskom het die kontrak in Oktober 2016 onderteken en dat die kontrak se datum terugdateer is na Januarie 2016.

Zondo wou by Singh weet waarom Weiss sou erken het hy het die kontrak spesifiek in Oktober onderteken en dit na Januarie terugdateer. Hoe sou dit McKinsey se saak help indien hy die datum van Oktober gefabriseer het? Dit sou tog beter gewees het as Weiss eerder ’n vroeëre datum gefabriseer het, wou Zondo weet.

Singh het gesê McKinsey het al talle verklarings gemaak, onder meer met die parlementêre ondervraging, en duisende verklarings verkry en ’n ondersoek gedoen. Niemand het gesê dat die ooreenkoms tussen Eskom en McKinsey nie bestaan het nie, maar toe in Desember 2020 het Weiss besluit om te erken die kontrak het nie bestaan nie en dat dit in Oktober 2016 onderteken is met ’n teruggedateerde datum.

Singh sê Weiss praat nie die waarheid nie en dat die kontrak al voor middel 2016 moes bestaan het. Hy het getuig dit blyk dat McKinsey tussen verskillende weergawes beweeg van wat gebeur het. Weiss se beëdigde verklaring skep verwarring, en dit is ’n fundamentele punt, volgens Singh.

Zondo het aan Singh uitgewys sy eie korrespondensie met McKinsey wys dat daar nog nie in Februarie 2016 ’n ondertekende dienskontrak tussen Eskom en McKinsey was nie; dit is sy eie korrespondensie wat verwarrend is.

Singh het hierop geantwoord hy het nie toegegee dat die kontrak nie met ’n teruggedateerde datum onderteken is nie, maar wel dat dit vroeër as Oktober moes wees en dat Weiss hieroor verkeerd is.

Singh se ondervraging gaan nie net oor McKinsey nie, dit handel uiteindelik oor die betaling deur Eskom aan Trillian Capital Partners, die maatskappy van die Guptas se meeloper, Salim Essa.

Eskom het ’n regstreekse betaling aan Trillian gemaak nadat Trillian aangevoer het hy is ’n subkontrakteur van McKinsey in die plek van die maatskappy Regiments, wat McKinsey se vennoot vir swart ekonomiese bemagtiging was.

Singh het vantevore getuig dit is nie hy wat goedkeuring gegee het vir ’n betaling van R30,6 miljoen aan Trillian Capital Partners nie.

Meer oor:  Eskom  |  Anoj Singh  |  Raymond Zondo  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.