Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sishen-spoorlyn is ‘gekaap’ – Gama

Transnet se langtermynkontrak met die Kumba-ysterertsmyn van Anglo American in die Noord-Kaap om ystererts per trein na die Saldanha-hawe in die Wes-Kaap teen “die goedkoopste tariewe ter wêreld” te vervoer, dui op die ware staatskaping wat plaasvind.

Só het Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

“Voorsitter, dít is die ware staatskaping. Die Transnet-Kumba-ooreenkoms is onmededingend,” het Gama getuig.

Hy het aangevoer dat Anglo American die Sishen-spoorlyn van 861 km tussen Sishen en Saldanha se spoorkapasiteit, asook die hawe-kapasiteit in Saldanha, “gekaap het”.

Volgens Gama is ’n nuwe kontrak, wat vir 23 jaar geldig is, in 2005 tussen Anglo American en Transnet aangegaan waarvolgens ystererts van die Kumba-myn af teen R111 per ton vir die afstand tot by die hawe vervoer word. Hy het getuig dat die oorspronklike kontrak nog uit die laat 1970’s is.

Dít terwyl die Assmang-mynmaatskappy R149 per ton moet betaal vir ystererts wat vanaf die Khumani-myn op dieselfde spoorlyn na Saldanha vervoer word.

“Dit is ’n verskil van R38 vir elke ton,” het hy gesê. Die kontrak geld tot 2028.

Volgens Gama het hy in 2018 gepoog om die kontrakte aan te pas sodat ’n mededingende prys vir die vervoer van die ystererts onderhandel kan word. Hy het getuig enige Transnet-amptenaar wat egter probeer om die kontrak te laat hersien, word deur die Kumba-myn gekniehalter met die “wraak van Anglo American” waarteen hulle hul vasloop.

Gama het getuig die myn maak ’n wins ten koste van ’n staatsentiteit en betaal R1 miljard per jaar minder as wat hy behoort te betaal om die ystererts te vervoer.

Hy het ook verwys na die getuienis van Popo Molefe, die destydse voorsitter van die Transnet-direksie, en het gesê sy bewerings teen hom voor die kommissie is gemaak om by die narratief van staatskaping aan te sluit.

Volgens Gama het hy homself met harde werk by Transnet opgewerk en sy bevordering tot uitvoerende hoof is nie aan die aanstelling van Malusi Gigaba as minister van openbare ondernemings gekoppel nie. (Oudpres. Jacob Zuma het Gigaba in 2010 in dié posisie in die plek van Barbara Hogan aangestel.)

Gama het getuig toe Gigaba in 2010 aangestel is, het hy al 16 jaar by Transnet gewerk.

“Gigaba het net met die aanstelling van lede van die Transnet-direksie gewerk. Ek verstaan nie hoe Molefe die afleiding kan maak dat Gigaba my aangestel het nie. Dit is verkeerd.”

Gama het getuig dat Molefe in sy getuienis voor die kommissie aangevoer het hy is een van drie argitekte van die staatskaping wat na bewering by Transnet plaasgevind het, maar hy het nie besonderhede hieroor gegee nie.

In die geval van beweerde verdagte kontrakte wat Transnet met die maatskappye Regiments, Trillian en Nkonki aangegaan het, het Gama aangevoer dat hy die een is wat al drie kontrakte beëindig het.

Die bewering dat hy korrup is, is vals, het hy getuig.

Meer oor:  Transnet  |  Siyabonga Gama  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.