Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sisi beloof baie vir Vrystaat

Terwyl sy baie te sê gehad het oor die gebrek aan ekonomiese ontwikkeling en werkloosheid onder die jeug, het Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, haar nie juis uitgelaat oor die vervalle munisipaliteite in die provinsie nie.

Dr. Roy Jankielsohn. Foto: Marietjie Gericke

So sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, in sy kommentaar op Dinsdag se provinsiale rede wat deur Ntombela in die Vierde Raadsaal in Bloemfontein gelewer is.

“Ntombela verstaan nie dat beleggers nie in die provinsie sal belê nie weens die vervalle toestand van munisipaliteite wat nie meer basiese dienste kan lewer nie. Ekonomiese ontwikkeling kan dus nie plaasvind nie.”

Hy sê daar sal nie beleggings in die Vrystaat wees as daar nie water, krag, riolering of infrastruktuur is nie.

Jankielsohn sê Ntombela het net vlugtig in haar rede oor die munisipaliteite gepraat.

Sy het wel gesê die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake sal oor die aangeleentheid praat, maar nie gesê wat haar planne vir die munisipaliteite is nie.

Volgens Jankielsohn kan die probleem nie opgelos word voordat die oorsake soos die aanstelling van onkundige personeel gepak word nie, en sal munisipaliteite vervalle bly.

“Die feit dat die ANC Vusi Tshabalala, die voormalige burgemeester van die mees vervalle Vrystaatse munisipaliteit, Maluti-A-Phofung (wat Harrismith, Qwaqwa en Kestell bedien), as die hoofsweep in die Vrystaatse wetgewer en voorsitter van die provinsiale openbare rekeningekomitee, aangestel het, is ’n bewys dat hy nie ernstig is om die stand van sake reg te ruk nie.

Politiek bly vir die ANC belangriker as basiese dienslewering en ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat.

“Politiek bly vir die ANC belangriker as basiese dienslewering en ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat.”

Mandisa Makesini, provinsiale leier van die EFF in die Vrystaat, het gesê die premier was nie duidelik oor hoe sy die munisipaliteite gaan regruk, of sy ’n plan daarvoor het en wie vir die gemors verantwoordelik gehou moet word nie.

Makesini het gesê sonder die nasionalisering van die myne sal daar nie voldoende werk in die Vrystaat geskep kan word nie.

“Die onwettige ontginning van minerale deur zama-zamas moet stopgesit word en die mense moet landwyd die kans kry om aan die ontginning van minerale deur die besit van aandele deel te neem.”

Madisa Makesini. Foto: Marietjie Gericke

Dévar Smit van die VF Plus het in ’n nuusverklaring gesê Ntombela wil die Vrystaat bou, maar bied nie ’n plan hiervoor aan nie.

“Ntombela het die ideale geleentheid om konkrete planne te bied misgeloop. Die premier se verbeeldinglose toespraak pak nie die provinsie se probleme nie.”

Die VF Plus wil saam met die premier bou aan ’n beter Vrystaat, maar vind dit kommerwekkend dat sy niks nuuts in haar provinsiale rede gebied het nie. Sy wil werk skep, maar bied geen plan om werk buite die regering en die staat te skep nie.

“Die premier erken dat Vrystaatse munisipaliteite se swak finansiële prestasie ’n bron van kommer is en verwys na onmiddellike ingryping, maar maak geen melding van optrede teen korrupte en onbevoegde amptenare en politici nie.”

Smit sê solank die premier nie optree teen diegene wat nie die basiese munisipale reëls kan toepas nie, sal daar geen groei in die provinsie wees nie.

“Die meeste ekonomiese aktiwiteite vind in munisipaliteite plaas en solank dienste nie gelewer word nie, sal die private sektor huiwerig bly om in die Vrystaat te belê. Nywerhede belê in munisipaliteite wat geldelik gesond is en dienste lewer. So word werk in die private sektor geskep en is daar sosio-ekonomiese verligting.”

Hy sê om jaar ná jaar ’n lys van onsuksesvolle regeringsprojekte te bied, bring nie groei nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.