Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Sisi Ntombela is net Ace in ’n rok’ – Roy Jankielsohn
Roy Jankielsohn Foto: Netwerk24

Die Vrystaat se nuwe premier, Sisi Ntombela, is niks anders as ’n Ace Magashule, die vorige premier en nou sekretaris-generaal van ANC, in ’n rok nie.

So sê Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, oor die antwoorde wat Ntombela aan hom verskaf het oor die onkoste van haar inhuldigingspartytjie en Magashule se afskeidspartytjie vroeër vanjaar in die Vrystaat-stadion. Vrae is ook gevra oor die gala-dinee daarna in die Dr. Petrus Molemela-stadion in Rocklands.

Die gala-dinee is op die nippertjie afgelas toe Magashule glo te veel druk oor die kostes van sy afskeid begin kry het, maar onberispelike bronne beweer die kos was reeds gemaak en die tafels deftig versier.

Die bron wat ook dienste by die gala-dinee moes lewer, sê tafels was reeds swierig gedek met blommerangskikkings vir tussen 300 en 400 gaste, die klank- en musiektoerusting was reeds daar, lofsangers moes betaal word, terwyl die kos reeds gemaak was en in warm opskepbakke gestaan en prut het.

“Dit is onmoontlik dat daardie gala-dinee niks gekos het nie. Die gaste wat reeds opgedaag het, is met die warm kos in bakkies huis toe gestuur nadat hulle gehoor het dat die gala-dinee afgelas is, sê die bron na aan die vuur.

Jankielsohn sê nou dat hy die antwoorde op sy vrae oor die afskeid in die Vrystaatse stadion en die gala-dinee van Ntombela ontvang het, blyk dit “dat Ntombela niks anders as ’n Magashule in ’n rok is nie”.

“Daar is nog geen teken van lig aan die einde van die bedrieglike donker tonnel wat as die Vrystaatse provinsiale regering bekend staan nie.

“Dit is duidelik dat Magashule se greep op die provinsiale regering nog sterk is. Daar is ook geen politieke wil om veranderings in werkwyses aan te bring onder die nuwe regime wat gesamentlik deur (Sam) Mashinini as ANC-voorsitter en Ntombela as premier, beheer word nie.”

Die antwoorde wat die premier aan die DA verskaf het oor die geleentheid wat as haar intree- en Magashule se uittreepartytjie gedien het, is die bewys hiervan.

Uit die manier wat sy die wetgewer met haar swak antwoorde op vrae minag, is dit duidelik dat sy bloot net ’n Magashule in ’n rok is.

“Sy het in vorige antwoorde bevestig dat R6 miljoen aan die afskeids- en inhuldigingspartytjie bestee is, maar in haar jongste antwoord wil sy voorgee dat die gala-dinee daarna, wat op baie kort kennis gekanselleer is, niks gekos het nie. Dat dit deel van ’n uitruil-ooreenkoms met provinsiale tesourie was.

“Ons is egter bewus daarvan dat versierings, kos en vermaak reeds vir die dinee gereël was.

“Die R6 miljoen se afskeid in die stadion soos sy beweer, sluit ook nie eens die gala-dinee in nie, wat die kostes nog meer verregaande maak. Dit is onwaarskynlik dat die maatskappy wat die kontrak vir die dinee gekry het, die kostes van ’n kansellasie sou dra sonder dat daar moontlik beloftes gemaak is vir ander kontrakte waaruit verliese verhaal kan word,” sê Jankielsohn.

Verder het die premier provinsiale amptenare twee dae gratis verlof gegee wat in ’n brief (in Netwerk24 se besit) aan hulle bevestig is.

“In haar antwoord ontken Ntombela dat amptenare verlof gekry het om haar en Magashule se partytjie by te woon.

“Uit die manier wat sy die wetgewer met haar swak antwoorde op vrae minag, is dit duidelik dat sy bloot net ’n Magashule in ’n rok is,” sê Jankielsohn.

*Inligting wat destyds uit die Vrystaatse provinsiale regering aan Netwerk 24 gelek was en waaroor berig is, was dat R20 miljoen aanvanklik vir die afskeidspartytjie van Magashule en die inhuldigingspartytjie vir Ntombela in die Vrystaat-stadion begroot was.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Roy Jankielsohn  |  Sisi Ntombela  |  Ace Magashule  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.