Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sisulu gryp in by Standerton-waterkrisis

Die dag nadat die pluimveegroep Astral die regering gekritiseer het omdat munisipaliteite soos die Lekwa-munisipaliteit in Standerton, Mpumalanga, nie basiese dienste aan maatskappye kan voorsien nie, het Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, aangekondig haar departement sal hier ingryp.

Sy het Squire Mahlangu, waarnemende direkteur-generaal van water en sanitasie, en Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van menslike nedersettings, opdrag gegee om ’n volledige verslag oor die Lekwa-munisipaliteit se wateruitdagings aan haar voor te lê.

Lindiwe SisuluFoto: Jaco Marais

(Pres. Cyril Ramaphosa het met die aankondiging van sy kabinet op 29 Mei aangekondig die departemente van menslike nedersettings en water en sanitasie word een departement.)

Sisulu het Mahlangu ook gevra om die saak met die munisipaliteit en ondernemings in die omgewing te bespreek en met oplossings vorendag te kom.

Sy het David Mahlobo, haar adjunk, ook opdrag gegee dat dié saak as ’n prioriteit hanteer moet word. Hy sal Standerton binnekort besoek.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het Maandag in ’n verklaring gesê hy is verstom dat die regering ’n fiksasie het met die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie – en nou ook met megastede en sneltreine – maar nie basiese dienste aan bestaande maatskappye soos Astral kan voorsien nie.

Standerton se waterkrisis het Astral al minstens R85 miljoen gekos.

Die munisipaliteit het nog R10 miljoen belowe om die plaaslike munisipaliteit te help om sy waterinfrastruktuur op te knap.

Benewens ’n hofbevel wat Astral teen die munisipaliteit gekry het om ’n langtermynplan oor die herstel en verbetering van munisipale waterinfrastruktuur voor te lê, het Astral ’n tussentydse noodplan met die Lekwa-munisipaliteit gereël om sy waterkrisis op te los.

Hiervolgens het die munisipaliteit onderneem om minstens 2 megaliter behandelde water per dag aan Astral se Goldi-aanleg via die munisipale infrastruktuur te voorsien. Die munisipaliteit het verder vir Astral “aangestel” as nooddiensverskaffer.

Dit beteken Astral mag oor die volgende 24 maande 3,5 megaliter per dag van sy watertoekenning self regstreeks uit die Vaalrivier pomp.

Astral het op een van sy hoenderplase langs die Vaalrivier infrastruktuur opgerig om water uit die rivier te pomp. Die water word met tenkwaens na ’n filtreer-aanleg by die Goldi-fabriek geneem.

Andy Crocker, besturende direkteur van Astral se kommersiële afdeling, sê die maatreël beteken Astral het genoeg water om sy fabriek aan die gang te hou, hoewel dit aansienlik duurder is. Dit sal wel help dat die personeel by die aanleg binnekort na normale skofroosters kan terugkeer.

Sisulu het in die naweek reeds die sweep geklap toe sy gesê het munisipaliteite moet die onderhoud van water- en sanitasie-infrastruktuur ’n prioriteit maak.

Haar departement het Dinsdag in ’n verklaring gesê Astral is ’n groot werkverskaffer in die omgewing van die Lekwa-munisipaliteit. Die maatskappy het ook aangebied om te help om sommige van die uitdagings op te los.

“Dit is nou ons verantwoordelikheid om almal om die tafel te kry en langtermynoplossings vir die mense en die ondernemings van Lekwa te vind,” het Sisulu gesê.

*Sisulu se departement het ook aangekondig hy begin met regstappe teen die Inxuba Yethemba- plaaslike munisipaliteit oor die besoedeling van die Groot Visrivier in die Oos-Kaap.

Meer oor:  Lekwa-Munisipaliteit  |  Astral  |  Standerton  |  Mpumalanga  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.