Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sisulu sê agentskap spioeneer op haar personeel

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, beskuldig die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) van spioenering op haar personeel in die Oos-Kaap.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie. Foto: Argief

Sy het ’n formele klag by die parlement se gesamentlike komitee oor intelligensie ingedien oor die beweerde onwettige observasie van die Amatola Waterraad en haar personeel.

Dié waterraad is ’n entiteit van die minister se departement.

Volgens Sisulu het die beweerde onwettige observasie begin nadat sy haar kommer uitgespreek het oor die vertraging met ’n ondersoek na korrupsie by die waterraad.

Sy sê sy is bewus van ’n georkestreerde veldtog waarmee lede van die SVA in die Oos-Kaap probeer het om kameras op strategiese plekke in die Amatola Waterraad se kantore in Oos-Londen te plaas.

Dit is volgens haar sonder haar medewete as die politieke hoof van die instelling gedoen en die raad is ook nie daaroor ingelig nie.

Sy het bygevoeg dat sy vroeg vanjaar voor die portefeuljekomitee oor water en sanitasie gekla het oor die vertraging met die ondersoek, asook by die kantoor van die sekretaris-generaal van die ANC.

Sisulu sê sy het drie klagte by die parlementêre komitee oor intelligensie ingedien oor die beweerde onwettige observasie deur die SVA.

“Dit is nadat strafregtelike sake by die polisie aanhangig gemaak is, waarmee ek glo daar ook doelbewus gesloer word,” het sy bygevoeg.

Brig. Thembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, wou nie kommentaar lewer nie en sê dat hy nie bevoeg is om oor die aangeleentheid te praat nie. Hy het navrae na die polisie se nasionale kantoor verwys.

Genl.maj. Mathapelo Peters, nasionale polisiewoordvoerder, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

In die verklaring beskryf Sisulu hoe haar personeel agtervolg word en in hotelle en hul huise geteister en gedreig word.

Sy sê hul eggenote is ook geteister, daar is vuurwapens op hulle gerig, en ondanks die feit dat dit by die polisie aangemeld is, is daar niks aan gedoen nie.

“My personeel het die teikens van hierdie misdadigers geword. Dit word gevaarlik, soos die kantoor van die inspekteur-generaal uit ons vorige verslae kan getuig,” het sy bygevoeg.

Mava Scott, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie. Die reaksie sal bygevoeg word wanneer dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.