Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sisulu skuif Mo; Kubane op pad om met water te help
Mo Shaik Foto: Argief

Die voormalige spioenbaas Mo Shaik, wat te midde van groot kritiek aangestel is as ’n spesiale raadgewer van Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie en menslike nedersettings, is op haar versoek na die kantoor van die direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie geskuif.

Tuso Zibula, ’n woordvoerder van Sisulu, het Donderdagmiddag aan Netwerk24 gesê die minister het Shaik gevra om op die adviespaneel van Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van die departement water en sanitasie, te dien.

Die paneel bestaan uit ’n groep kundiges.

“Die kundigheid wat hy (Shaik) by die Ontwikkelingsbank (van Suider-Afrika) en intelligensie-instellings het, is baie nodig in daardie kantoor,” het Zibula gesê.

Die DA het vroeër in ’n verklaring gesê Shaik, wat glo meer as R1,9 miljoen per jaar verdien, het bedank ná groot druk van die DA op hom en Menzi Simelane, ’n voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, wat ook ’n spesiale raadgewer van Sisulu is.

Shaik het dit egter teenoor News24 ontken en gesê hy dien nou in die “stabilisasiekomitee” in die departement waar hy as adviseur oor beleggings in die watersektor optree.

Hy sal die minister steeds oor sekere kwessies van raad bedien.

Hy het ook ontken dat hy meer as R1,9 miljoen per jaar verdien. Volgens hom werk hy op ’n deeltydse grondslag vir ’n maksimum van 15 dae per maand teen R7 000 per dag.

Sisulu het Donderdagmiddag aangekondig 26 Kubaanse ingenieurs en spesialiste is op pad na Suid-Afrika. Hulle word vanaf die einde van April verwag en sal help met die onderhoud van die land se waterinfrastruktuur.

 Die minister sê die koms van die Kubaanse ingenieurs en spesialiste volg op ’n ooreenkoms wat sy twee weke gelede met Benítez Verson, die Kubaanse ambassadeur in Suid-Afrika, aangegaan het.

 Sisulu sê in ’n verklaring die Kubane sal veral in die droogste dele van die land ontplooi word.

 Die minister het kritiek verwerp dat die bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Kuba, wat sewe jaar gelede bereik is toe wyle Edna Molewa nog minister van water en omgewingsake was, plaaslike kundigheid ignoreer. Sy het dié kritiek as “ongegrond” beskryf.

Lindiwe Sisulu Foto: Sarel van der Walt

“Kuba het die vermoë om sy kennis oor die onderhoud en bestuur van waterinfrastruktuur met jong en opkomende ingenieurs en tegnici in die water- en sanitasiesektor te deel.”

 Kuba was een van die ANC se vernaamste bondgenote tydens die bevrydingstryd.

 Sisulu sê haar departement het ook bilaterale ooreenkomste met onder meer Nederland, Japan en lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.

 ’n Paar weke gelede toe Sisulu die Vaaldriehoek besoek het om haar te vergewis van die rioolvuil-krisis hier, het die plaaslike kamer van koophandel aan haar gesê daar is baie plaaslike ingenieurs in die Vaaldriehoek wat meer as bereid is om te help.

 ’n Ingenieur wat by waterinfrastruktuurprojekte betrokke is, maar gevra het om anoniem te bly, sê hy glo daar is meer as genoeg Suid-Afrikaanse ingenieurs wat kan help.

 “Ons het baie ingenieurs in Suid-Afrika wat hoogs opgelei is en baie ervaring het. Van hulle is oor die jare heen om verskeie redes opsygeskuif. Hulle kan ’n groot bydrae lewer.”

 Hy wys daarop dat Ace Magashule, toe hy nog die Vrystaatse premier was, ook Kubaanse ingenieurs laat kom het. “Dit het géén verskil gemaak aan die Vrystaat se waterkrisis nie.”

 Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs het gesê hy sal later kommentaar lewer.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Mo Shaik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.