Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sittings begin oor Bo-Kaap se erfenisstatus
Gemeenskapslede by ’n openbare sitting oor die beskerming van die Bo-Kaap as erfenissone. Foto: Twitter/City of Cape Town

Kapenaars het die naweek hul monde uitgespoel rakende erfenisplanne vir die geskiedkundige Bo-Kaap-gemeenskap.

Openbare verhore hieroor is Saterdag in die Kaapse burgersentrum gehou.

Aktiviste van die Bo-Kaap vra al lank dat die gebied tot ’n beskermde erfenisgebied verklaar moet word sodat die ontwikkeling van “monstergeboue” daar gestuit kan word.

Jacky Poking, sekretaris van die Bo-Kaapse burgerlike en belastingbetalersvereniging, sê die openbare sitting wat oor die naweek plaasgevind het was baie konstruktief.

“Dit het gevoel asof die Bo-Kaapse inwoners vir die eerste keer regtig gehoor word wanneer hulle praat oor die omgewing en wat dit vir hulle beteken. Ek moet die organiseerders ’n pluimpie gee dat hulle so goed geluister het en selfs ’n uur en ’n half langer gebly het om aan almal gehoor te gee,” sê Poking.

Volgens haar is een van die kwessies wat na vore gekom het die koste daaraan verbonde om die gebied te bewaar en sy oorspronklike karakter te behou.

“Mense moet onthou dat dit die mense van die Bo-Kaap is wat self, sonder enige hulp, hul eie eiendom in stand hou en mooimaak,” sê Poking.

“Die huidige inwoners kyk al jare lank na hul eie eiendom en hou die oorspronklike karakter en styl in stand. Dit is die nuwe inwoners en beleggers wat dekke, swembaddens en ekstra verdiepings by die huise wil voeg.”

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het op sy beurt verduidelik dat die plaaslike owerheid beplan om die Bo-Kaap en die omliggende gebiede as ’n beskermde erfenissone te verklaar. So ’n sone word deur die plaaslike regering geïmplementeer en verskil van die nasionale erfenisproses.

Die Bo-Kaap in Kaapstad is bekend vir sy kleurvolle huisies en die erfenis van een van die Kaap se oudste woongebiede. Foto: Deon Raath

“Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, sal enige versoeke vir ’n nasionale erfenisgebied moet hanteer,” sê Plato.

Mthethwa het die Bo-Kaap in Desember verlede jaar besoek en gesê hy sal die stap ondersteun om die Bo-Kaap as ’n nasionale erfenisgebied verklaar te kry.

Plato het dit egter duidelik gemaak dat ’n erfenissone nie verhoed dat ontwikkeling in die Bo-Kaap plaasvind nie. “Dit vereis wel dat die stad die uitwerking op die erfenisgebied moet oorweeg waar veranderinge, slopings of nuwe ontwikkelings voorgestel word,” sê Plato.

“ ’n Erfenisgebied verseker dus dat waar daar ontwikkel word, dit sensitief teenoor die gebied se argitektuur, gemeenskap en geskiedenis is. Dit raak nie eienaarskap of die koop of verkoop van eiendom nie.”

Poking sê inwoners van die Bo-Kaap is bewus daarvan dat die ooreenkoms oor ’n erfenisgebied nie volmaak is nie.

“Ons sal saam met die Kaapse metroraad werk om seker te maak dat die probleme uitgestryk word wat ons wel met die ooreenkoms het,” sê Poking.

Die proses van openbare deelname is tans in sy derde week en lede van die publiek het tot 22 Februarie kans om kommentaar te lewer.

Meer oor:  Bo-Kaap  |  Erfenis  |  Erfenisbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.