Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skaam jou, Gwede

Een van pres. Cyril Rama­phosa se nouste bondgenote in die ANC se topses, Gwede Mantashe, het Saterdag erken veiligheidstoerusting by sy drie huise was ’n geskenk van ’n grootkop by Bosasa, wat al miljarde rande uit bedenklike staatskontrakte verdien het.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en ANC-voorsitter, (regs) en sy veiligheidshoof, Mzonke Nyakaza. Foto’s: JUNIOUR KHUMALO

Die veiligheidskameras en -ligte by Mantashe se huise is laat aanbring deur Papa Leshabane, ’n uitvoerende direkteur van Bosasa Operations.

Maar Mantashe het Saterdag gesê hy het nie destyds besef dat Leshabane, wat hy as ’n familievriend geken het, by die omstrede Bosasa betrokke was nie. Dít was gister die minister van minerale hulpbronne en ANC-voorsitter se verduideliking oor waarom hy vroeër ontken het dat hy ooit enige gunste van Bosasa gekry het.

’n Tegniese koördineerder van ’n Bosasa-maatskappy, Richard le Roux, het die afgelope week by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê Mantashe is een van verskeie hooggeplaastes by wie se huise Bosasa in die geheim veiligheidsopgraderings gedoen het.

Le Roux het getuig Nomvula Moko­n­yane, minister van omgewingsake, Vincent Smith, ANC-parlementslid, Thabang Makwetla, adjunkminister van korrektiewe dienste, en Dudu Myeni, destyds voorsitter van die SAL, het ook veiligheidsopgraderings gekry.

‘Ek was nie destyds ’n minister nie.’

Mantashe en sy veiligheidshoof, Mzonke Nyakaza, het Saterdag joernaliste na sy huis in Boksburg genooi om vir hulle te wys dat hy nie die opgraderings gekry het waarna Le Roux verwys het nie.

Hy het toegegee dat Leshabane in 2016 gratis ligte en kameras by sy huise in Boksburg en by Cala in die Oos-Kaap laat installeer het.

“Ek was destyds sekretaris-generaal van die ANC, nie ’n minister nie. Daar was dus geen tenders wat ek in ruil vir die installering kon gee nie,” het hy geskerm.

Die ANC het destyds nog die koste van sy beveiliging betaal.

Daar was daardie jaar twee pogings om by sy huis in Boksburg in te breek en hy het Nyakaza gevra om vir hom veiligheidskameras te installeer.

Kringtelevisiekameras en veiligheidsligte by Mantashe se huis.

Nyakaza het Saterdag gesê Mantashe se vrou het vir hom geld gegee om kameras by die East Rand Mall te gaan koop.

“Die volgende dag . . . het Papa Leshabane by die huis aangekom. Hy het die kameras gesien wat ek wou installeer en het gesê: ‘Hierdie kameras is baie swak, hulle sal nie vir jou die beeld gee wat jy nodig het nie’. Hy het gesê hy kan vir my beter kameras kry,” sê Nyakaza.

’n Paar dae later het hy hom voorgestel aan die persoon wat die beter kameras geïnstalleer het.

“Dit was Richard, die een wat by die kommissie getuig het,” het Nyakaza Saterdag gesê.

Volgens Nyakaza het hy sedertdien ’n hele paar keer met Le Roux en Le­shabane gepraat oor die stelsel, veral wanneer dit nie behoorlik gewerk het nie.

Mantashe sê hy het geen idee waarom Le Roux getuig het die veiligheidstelsels het R300 000 gekos nie. Hy het maar R10 000 betaal vir die toerusting wat Nyakaza vir die Boksburg-huis gekoop het.

Hy betwis dit ook dat die ligte en kameras “veiligheidstoerusting” genoem kan word. “Veiligheidstoerusting verwys na iets wat misdaad kan keer . . . en die kameras wat Leshabane geïnstalleer het, keer nie misdaad nie,” het die minister gesê. “Dit kan net help om die misdadigers uit te ken nadat hulle ’n misdaad gepleeg het . . .”

Mantashe het ook daarop gewys dat hy nie ’n elektriese heining gekry het nie – terwyl niemand nog ooit beweer het dat hy wel een gekry het nie. In Le Roux se verklaring voor die kommissie het hy net melding gemaak van nege veiligheidskameras, ’n digitale video-opnemer en veiligheidsligte.

Mantashe het die beskeie Boksburgse eiendom in 1995 gekoop toe hy nog vir die National Union of Mineworkers gewerk het. Dit was die eerste huis wat hy gekoop het, het hy gesê.

Nie Mantashe of Nyakaza het gesê waar hulle gemeen het die geld vandaan gekom het om vir die toerusting en installasie betaal nie. Le Roux beweer Bosasa het daarvoor betaal.

Toe News24 die afgelope week foto’s bekom wat wys hoe personeel van Bosasa veiligheidstoerusting by Mantashe se Oos-Kaapse huis installeer, het hy woedend gereageer en News24 daarvan beskuldig dat hulle ’n “parallelle propagandaprojek” bedryf.

Hy het die voorgenome publikasie van die foto’s ’n “voortydige aanval” genoem, aangesien hy toe reeds joernaliste genooi het om sy huis die naweek te besoek.

“Volgens my word julle deur die Agrizzi’s vir hul doeleindes gebruik. Julle wil my samewerking hê. Maar ek gee nie my samewerking aan die vyand nie,” het Mantashe volgens News24 in ’n teksboodskap geskryf.

Meer oor:  Papa Leshabane  |  Gwede ­Mantashe  |  Richard Le Roux  |  Bosasa  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.