Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skenkings aan Cyril dalk ‘staatskaping’ - OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se skuldigbevinding van pres. Cyril Ramaphosa in haar ondersoek oor of hy die parlement mislei het oor ’n skenking vir sy destydse presidensiële veldtog van Bosasa (deesdae African Global Operations of AGO), sal ’n blywende impak op Ramaphosa se agenda hê om korrupsie uit te roei.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, maak gister in Pretoria die verslag bekend oor pres. Cyril Ramaphosa se misleiding van die parlement. Foto: EWN

Só meen Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder nadat die OB gister haar verslag daaroor bekend gemaak het. Sy het bevind dat Ramaphosa die kode vir uitvoerende amptenare oortree het deur die parlement te mislei deur nie sy ledebelange te verklaar nie, en ook dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Ramaphosa en lede van sy CR17-presidensiële veldtog moet ondersoek vir moontlike geldwassery.

Mathekga het gister gesê as die OB se verslag na ’n moontlike regshersiening steeds meriete het, sal die bevindinge teen Ramaphosa sy beeld skaad as ’n agent vir goeie regering.

“Ons praat hier van baie geld. As dit meriete het, sal dit beteken dat die president in die sak van spesiale belanghebbers is. Dit sal hom in ’n hoek dryf. Sy vyande sal sê ‘jy is nes ons, jy het ook vuil geld ontvang’ ”, het Mathekga gesê.

Die OB het gesê die meer as R121 miljoen wat deur een skenker aan Ramaphosa se destydse CR17 -ANC-presidentsveldtog geskenk is, kan dalk “die risiko skep van ’n soort staatskaping”.

Mkhwebane se ondersoek hou verband met die R500 000-betaling wat hy van Bosasa ontvang het.

Die vraag deur Mmusi Maimane, DA-leier, oor die betaling is op 6 November 2018 in die parlement aan Ramaphosa gestel. Ramaphosa het geantwoord die geld is in ’n trustrekening betaal vir dienste wat sy seun, Andile, gelewer het.

Ramaphosa het egter later in ’n brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering sy antwoord gewysig en gesê die geld is in ’n trustrekening van die CR17 ANC-presidensiële veldtog inbetaal.

Mkhwebane het bevind “honderde miljoene” rand is aan Ramaphosa se CR17-veldtog geskenk.

R191 miljoen is tussen Desember 2016 en Januarie 2018 in die CR17-rekening betaal. Min of meer dieselfde bedrag is weer uit die rekening na ’n ander rekening oorgeplaas, het Mkhwebane bevind.

Drie bedrae van R31 miljoen, R39 miljoen en meer as R51 miljoen is deur een onbekende skenker inbetaal.

“In die slotsom oor hierdie groot bedrae geld, wat ook van private ondernemings ontvang is, is my voorlopige indruk dat so ’n scenario ’n situasie van risiko skep van ’n soort staatskaping deur diegene wat die geld aan die veldtog geskenk het,” het Mkhwebane gesê.

Mmusi Maimane

Maimane het gister op ’n mediakonferensie in Kaapstad gesê die DA het die klagte teen Ramaphosa by die OB aanhangig gemaak omdat niemand bo die reg verhewe is nie.

Aangesien die president van die land nie ’n lid van die parlement is nie, beveel die DA aan dat ’n ad hoc-komitee in die parlement aangestel word om te bepaal wat die gepaste straf vir die president sal wees, het Maimane gesê.

“Soos enige ander individu is dit reg dat die president moes verklaar het watter borgskappe hy ontvang het. As dit ’n regstreekse borgskap was, waarom het dit deur meer as een rekening gegaan? Ons wil weet wat die OB bedoel wanneer sy sê die NVG moet ondersoek instel.”

Maimane het gesê die land het harde lesse onder oudpres. Jacob Zuma se bewind geleer.

Joernaliste wou van Maimane weet hoe die DA in die een asem kan eis dat Mkhwebane as OB verwyder word, en in die volgende asem haar bevinding oor Ramaphosa as geloofwaardig kan beskou.

Maimane het gesê hy kan nie saamstem met die bewerings dat Mkhwebane haar bevinding gemaak het weens die invloed van ’n faksie in die ANC wat vyandig teenoor Ramaphosa is nie. Hy meen die kantoor van die OB moet gerespekteer word.

“As jy kyk na die verslag, die bevindings is uitgebreid en ernstig. Waarvoor was al die geld?”

Hy het gesê sy stryd om Mkhwebane te laat verwyder gaan voort.

Ramaphosa se kantoor het gister gesê hy bestudeer die OB se verslag. Dit nadat hy op 30 Mei ’n kennisgewing van die OB ontvang het waarin haar voorlopige bevindinge uiteengesit was. “Die president het op 27 Junie ’n omvattende reaksie tot die art. 7 (9) kennisgewing by die OB ingedien en in besonderhede areas hanteer waar die voorlopige bevindinge gebrekkig was, beide feitelik en ingevolge die wet.”

Verwys vir ondersoek

  • Bevindings en aanbevelings:

Mkhwebane het bevind dat Ramaphosa wel die parlement op 6 November 2018 gedurende vraetyd mislei het. Sy het gesê Ramaphosa het self in sy skrywe aan haar en aan die speaker van die Nasionale Vergadering (toe hy sy antwoord gewysig het) toegegee dat sy antwoord misleidend was.

“Hy het die parlement doelbewus mislei, omdat hy homself genoeg tyd moes gegee om ’n goed-ingeligte antwoord te verstrek.”

Die OB sê hoewel sy gedrag in dié in verband goeder trou geskied het, strook nie met die vereistes van sy amp as ’n kabinetslid nie en is strydig met die Grondwet.

  • Aanbeveling:

Die speaker van die nasionale vergadering (NV) moet binne 30 werkdae nadat sy die verslag ontvang het Ramaphosa se oortreding van die etiese kode aan die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange vir oorweging en optrede verwys.

Ramaphosa het homself blootgestel aan ’n konflik van sy private belange en amptelike pligte aan die hand van die etiese kode vir uitvoerende beamptes en die reëls oor die openbaarmaking van ledebelange, deur toe te laat dat hy in ’n situasie beland dat hy en sy seun deur Bosasa verryk kon word.

Mkhwebane sê dis veilig om aan te voer dat die skenkings vir die CR- 17-veldtog die een of ander soort van borgskap is, en dat dit ’n regstreekse finansiële borgskap of hulp is van ’n nie-politieke partybron, anders as ’n familielid of permanente gade, en was dit dus ’n materiële voordeel vir Ramaphosa.

“Ek het bewyse wat daarop dui dat van die geld wat deur die CR17-veldtog se trustrekening geskenk is, aan die Ramaphosa-trust-stigting se bankrekening betaal is,” het die OB gesê.

Deur nie die skenking in die register vir ledebelange te verklaar nie, het Ramaphosa die Grondwet oortree.

  • Aanbeveling:

Die speaker van die NV moet binne 30 werkdae eis dat Ramaphosa alle skenkings in die register vir ledebelange verklaar, omdat hy as adjunkpresident nog ’n lid van die parlement was toe die skenkings gemaak is.

Oor die bewering van ’n onbehoorlike verhouding tussen Rama­phosa en sy familie enersyds en Bosasa andersyds weens die R500 000-skenking, het Mkhwebane bevind dit het meriete omdat die skenking deur verskeie tussengangers gekanaliseer is, pleks dat dit bloot as ’n skenking regstreeks in die CR17-veldtog se rekening inbetaal is.

Dit laat die suspisie ontstaan van geldwassery.

Sy het besluit om dit na die na­sionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) te verwys vir verdere strafregtelike ondersoek “en gepaste optrede”.

Die kommissaris van polisie moet ook binne 30 werkdae strafregtelike ondersoek teen Gavin Watson, hoofbeampte van Bosasa, doen omdat hy die wet oortree het deur vir die OB te lieg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.