Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skenkings: Parlement keur wysiging aan Paia goed

Politieke partye en individuele kandidate in verkiesings is ’n tree nader daaraan om verplig te word om skenkings van meer as R100 000 bekend te maak.

Dit kom nadat die Nasionale Vergadering (NV) Woensdag die Wysigingswetsontwerp op die Bevordering van Toegang tot Inligting eenparig goedgekeur het.

Dié wysigingswetsontwerp het voor die NV gedien om uitvoering te gee aan ’n uitspraak van die konstitusionele hof in Junie 2018 wat die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ongeldig verklaar het deurdat dit strydig is met die Grondwet wat betref die bekendmaking van inligting oor die private befondsing van politieke partye en onafhanklike kandidate.

Dit het gevolg op ’n aansoek wat die organisasie My Vote Counts in die konstitusionele hof in Johannesburg gebring het.

Die hof het in sy uitspraak die parlement opdrag gegee om Paia te wysig. LP’s het 18 maande gehad om die “fout” in die wetgewing reg te stel en voorsiening te maak vir die bekendmaking van private befondsing van politieke partye.

Dit is ’n stap wat die land se toegang tot inligting versterk.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie wie se taak dit was om die wysigingswetsontwerp in dié verband op te stel, het ’n omvattende openbare deelnameproses onderneem en het mondelinge en geskrewe voorleggings van verskeie organisasies en ander rolspelers ontvang.

Ingevolge die wysigings moet politieke partye:

* Rekords skep en hou oor enige skenkings aan hulle in enige boekjaar wat die voorgeskrewe drumpel van R100 000 per skenking oorskry, en die persone of entiteite bekend maak wat sulke skenkings gemaak het; en

* Die rekords kwartaalliks beskikbaar stel; en

* Dit vir minstens vyf jaar hou.

Die wysigingswetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir oorweging.

Dié stap volg nadat die Wet op Politieke Party Befondsing, wat befondsing van politieke partye sal reguleer, in 2018 deur die parlement goedgekeur en vroeër vanjaar deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is.

Joel Bregman, direkteur van My Vote Counts, het Donderdag gesê die goedkeuring van die wysigingswetsontwerp deur die NV is ’n “belangrike verwikkeling” omdat dit ’n regstreekse gevolg is van die saak wat dié organisasie in die konstitusionele hof gebring het.

“Dit is ’n stap wat die land se toegang tot inligting versterk.”

Hy het verduidelik dat die twee stukke wetgewing – die Wet op Politieke Party Befondsing en die Paia-wysigingswetsontwerp – intrinsiek met mekaar verbind is.

“Totdat die Wet op Party Politieke Befondsing ten volle in werking gestel is, sal die nuwe bepaling in Paia, wat die verantwoordelikheid op politieke partye plaas om rekord te hou van hul skenkers, nie afdwingbaar wees nie.”

Hoewel die Wet op Politieke Party Befondsing vroeër deur Ramaphosa onderteken is, is die regulasies daarvoor nog in konsepvorm. Daar is nog geen datum vir wanneer dit in werking sal tree nie.

My Vote Counts het aan Ramaphosa geskryf om te vra wanneer die wet in werking tree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.