Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Skerpioene’ dalk op pad terug – Mthembu

Die regering oorweeg dit om weer ’n soortgelyke eenheid soos die eertydse Skerpioene op die been te bring om korrupsie te beveg, sê Jackson Mthembu, minister in die presidensie.

Hy het Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, gee tans aandag aan dié kwessie.

“Die Valke spesialiseer in ekonomiese misdaad, maar korrupsie verg spesiale personeel.

“Daarom werk minister Lamola tans aan ’n wetlike meganisme waardeur korrupsie beveg kan word,” het Mthembu gesê.

“Daar was voorheen so ’n eenheid – die Skerpioene. Dit is waaraan minister Lamola werk.

“Daar is nou bewerings van grootskaalse korrupsie. Die vraag is nou hoe skep ons ’n entiteit wat diegene wat hierby betrokke is, kan aankeer.”

Korrupsie met aankope

Die spesiale eenheid wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs aangekondig het om aandag te gee aan die grootskeepse korrupsie, wat in die Covid-19-pandemie met die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PPE) voorgekom het, het nie wetlike status nie en is bloot ’n koördineringsliggaam, het hy gesê.

Dié spesiale eenheid bestaan uit nege wetstoepassingsagentskappe, wat onder meer die spesiale ondersoekeenheid, die Valke, die nasionale vervolgingsgesag, die polisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens insluit, en is in Johannesburg gesetel.

Die eenheid sal volgende week sy eerste verslag aan Ramaphosa voorlê, en daarna elke ses weke.

Die spesiale interministeriële komitee wat uit verskeie ministers bestaan en deur Lamola gelei word, is nie aangestel om korrupsie te ondersoek nie, maar net te koördineer en aan te teken watter toerusting op al drie regeringsvlakke aangekoop is.

Dit is die werk van die wetstoepassingsagentskappe om misdadigheid hiermee te ondersoek.

“Die hoofrede waarom die komitee saamgestel is, is om inligting oor die aankoop van die toerusting te versamel en dit openbaar te maak.”

Dié komitee bestaan uit Lamola, Mthembu, Tito Mboweni, minister van finansies, Bheki Cele, minister van polisie, Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Mthembu sê die regering stem saam met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dat korrupsie met PPE niks anders as moord is nie.

Almal wat by beweerde korrupsie betrokke is, sal ondersoek word en die kabinet sal alles moontlik doen om wetstoepassingsagentskappe te help om hul werk behoorlik te doen.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie Foto: Flex Dlangamandla

Niemand is ‘immuun’

Niemand is “immuun” teen sulke ondersoeke nie en niks sal weggesteek word nie.

“Of jy nou Jackson Mthembu, minister in die presidensie, of enige ander Suid-Afrikaner is, almal is gelyk voor die reg,” het Mthembu gesê.

Hy sê Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder wat op spesiale verlof is nadat dit bekend geword het die Gautengse departement van gesondheid het glo ’n kontrak van R125 miljoen aan haar man, Thandisizwe Diko, toegeken, is “ook nie immuun” teen enige ondersoek nie.

Hy bevestig daar is ’n ondersoek na haar aan die gang

Meer oor:  Jackson Mthembu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.