Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skikking baan weg vir ANC-lys in KZN

Die ANC in KwaZulu-Natal is uiteindelik reg om nuwe leiers te kies op ’n provinsiale konferensie, maar in Gauteng word nou met litigasie gedreig om die provinsie se konferensie later vandeesweek te ontwrig.

In Pietermaritzburg het die party Vrydagmiddag laat ’n skikkingsooreenkoms bereik met ses van sy lede wat die party verlede maand met ’n hofbevel verbied het om nuwe provinsiale leiers te verkies.

Die provinsiale konferensie wat op 8 Junie by die Universiteit van Zoeloeland gehou sou word, gaan nou van 19 tot 21 Julie plaasvind, het Sihle Zikalala, voormalige voorsitter in die provinsie en ’n vertroueling van oudpres. Jacob Zuma, Vrydagaand aangekondig.

Muza Ntanzi, regsverteenwoordiger van die ses aansoekers wat die hofbevel verkry het, het bevestig dat hulle ’n skikking bereik het met die ANC-taakspan wat deur die ANC se hoofkantoor opdrag gegee is om voor einde Julie ’n provinsiale konferensie te hou.

Die ANC wil in Augustus landwyd begin met die uitgerekte proses waarmee sy kandidate vir aanstaande jaar se algemene verkiesing aangewys word. Dis ’n belangrike stap in sy verkiesingsveldtog.

Zikalala is ook koördineerder van die taakspan en ’n sterk kandidaat om weer as voorsitter verkies te word, hoewel daar tekens is van ’n breuk tussen hom en die Zuma-kamp. Sy vernaamste teenstander vir dié posisie is
Mike Mabuyakhulu, ’n vertroueling van pres. Cyril Ramaphosa.

Hulle moet ongerymdhede in takstrukture en ontevredenheid met die aanwys van afgevaardigdes na die ANC se leierskonferensie in Desember verlede jaar uitstryk.

In Gauteng het die Sedibeng-streek Vrydagmiddag hofstukke op die partyleiers laat bestel wat dreig dat die streek ’n hofbevel gaan aanvra wat die provinsiale konferensie kan laat ontspoor.

“Ons is egter nie bekommerd nie. Ons het al die regte prosesse gevolg en genoeg tyd vir besware toegelaat om ons probleme intern op te los. Ons glo nie dat ’n hofaansoek kan slaag nie,” sê Motalatale Modiba, woordvoerder van die Gautengse ANC.

In die Vrystaat is ook ’n hofsaak hangende om die verkiesing van provinsiale leiers in Mei ongeldig te verklaar weens beweerde ongerymdhede met die aanwys van afgevaardigdes na dié provinsie se leierskonferensie.

Meer oor:  Kwa Zulu-Natal  |  Konferensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.