Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Skokkend’ dat weermag miljoene aan Covid-medisyne bestee

Dit is “eenvoudig skokkend” dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag R215 miljoen van belastingbetalersgeld sou bestee aan Covid-19-verwante medisyne wat nie eens deur die departement van gesondheid goedgekeur is nie, meen die DA.

Dié party het Donderdag so gereageer nadat News24 berig het dat weermagamptenare dié bedrag bestee het vir die aankoop van honderdduisende dosisse van die medisyne bekend as Interferon. Amptenare weet luidens News24 ook glo nie hoe die medisyne ingevoer is nie.

Die departement van verdediging en militêre veterane het ten tyde van publikasie hiervan Donderdag nie op navrae in dié verband gereageer nie.

Intussen het die departement van gesondheid op sy beurt gesê dat hy “nie kommentaar lewer oor enigiets wat met die weermag verband hou nie”.

Die weermag se logistieke departement het na bewering reeds R35 miljoen betaal vir die eerste van drie besendings van die medisyne, wat tans by die militêre gesondheidsdienste se depot is.

Kobus Marais, DA-LP en woordvoerder oor verdediging, het egter in reaksie Donderdag in ’n verklaring namens sy party ’n beroep op Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, gedoen om dringend rekenskap aan die staande komitee oor openbare rekeninge, sowel as die portefeuljekomitee oor verdediging en militêre veterane, te gee oor berigte dat die weermag die geld bestee het aan die ongetoetsde Covid-19-medisyne.

“Wat meer is, is dat ’n brief van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdienste blykbaar aandui dat die bestelling vir Heberon Alfa R 2B, ook bekend as Interferon, nie van hulle gekom het nie en ook nog as voorraad aanvaar moet word, omdat hierdie spesifieke medisyne nie vir gebruik deur die Suid-Afrikaanse Regulatoriese Owerheid vir Gesondheidsprodukte geregistreer is nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula , minister van verdediging. Foto: DEON RAATH

“Die weermag se logistieke departement het na bewering reeds R35 miljoen betaal vir die eerste van drie besendings van die medisyne, wat tans by die militêre gesondheidsdienste se depot is.”

Volgens Marais is bogenoemde skokkend. Hy wil weet wie in die weermag die eerste besending sonder behoorlike noulettendheidsprosesse goedgekeur het.

“En hoekom het die weermag die aankoop van hierdie reuse-besending gedoen sonder om daaroor met amptenare van die departement van gesondheid te konsulteer?”

Marais sê dat die DA dié aangeleentheid ook sal opper wanneer die kantoor van die ouditeur-generaal voor die departement van verdediging en militêre veterane verskyn om oor Covid-19-verwante besteding verslag te doen.

Meer oor:  Nosiviwe Mapisa-Nqakula  |  Kobus Marais  |  Besteding  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.