Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skool skroef Zuma op vir skuld

Sterkte aan die likwidateur van VBS-bank wat R7,3 miljoen by oudpres. Jacob Zuma eis – want Zuma het blykbaar nie eens genoeg om agterstallige skoolgeld vir een van sy vele kinders te betaal nie, kan Rapport vandag onthul.

Oudpres. Jacob Zuma Foto: Doctor Ngcobo

’n Vooraanstaande skool in KwaZulu-Natal het in Julie ’n verstekvonnis teen Zuma (77) en sy vierde vrou, Nompumelelo Ntuli (45), gekry omdat die egpaar agterstallig is met R12 517 se skoolgeld.

Reona Ramnarain van Bentley-prokureurs het die afgelope week namens die skool aan Rapport bevestig die rekening is steeds nie betaal nie.

Sy wou nie sê of daar verdere stappe teen die egpaar kom nie.

Die skool het die vonnis bekom nadat die Zumas nie in die Pinetown-landdroshof aangedui het of hulle die eis gaan teenstaan nie. Hulle skuld ook R1 412 in regskoste. Luidens hofstukke dateer die skuld van die 2018-skooljaar.

Zuma, wat openlik sê dat hy nie geld het om sy regskoste in veelvuldige gelyklopende hofsake te betaal nie, het al beweer dat hy van sy deftige klere moes verkoop het om geld in te samel.

Hy leen gewoonlik om ander skuld te delg: Zuma het in September 2016 altesame R7,8 miljoen by VBS geleen sodat hy die Reserwebank kon terugbetaal vir die rojale verbeterings aan sy Nkandla-huis. Die konstitusionele hof het die terugbetaling aan die Reserwebank beveel.

Maar teen September vanjaar was hy reeds met R550 000 agterstallig in sy maandelikse paaiemente om die verbandlening by VBS af te betaal.

VBS en Anoosh Rooplal, die bank se likwidateur, het Zuma onlangs gedagvaar vir die terugbetaling van die balans van R7,3 miljoen. Hulle vra die hof dat as Zuma nie kan betaal nie, dat hulle beslag mag lê op Nkandla.

Dit lyk of hulle nou met gebakte pere sit, want Zuma huur die plaas Nxamalala, waarop hy Nkandla gebou het, by die Ingonyama-trust waarvan koning Goodwill Zwelithini die alleentrustee is en besit nie self die grond nie.

Kragtens die kontrak tussen Zuma en die trust, wat in 2017 by die aktekantoor geregistreer is, betaal hy slegs R667 huur per maand vir die plaas van 8,7 ha. Die huurkontrak verstryk op 31 Januarie 2051, kan verleng word en is geregistreer juis sodat Zuma die verbandlening by VBS kon aangaan.

Lucas Mkhwanazi, uitvoerende hoof van die Ingonyama-trust, het vroeër aan Rapport gesê ’n langtermynhuurkontrak is die enigste manier waarop mense wat op die trust se grond woon, ’n verbandlening kan kry om byvoorbeeld verbeterings op die grond te finansier. Die huurkontrak word as sekuriteit gegee.

As die bank die verband oproep, het die bank die reg om die grond met verbeterings te gebruik vir die oorblywende huurtydperk.

In Zuma se verbandleningsooreenkoms met VBS word al sy verpligtinge in die huurkontrak aan die bank gesedeer, wat die huurgeld insluit.

Wilhelm Botes, eiendomsregkenner van die regsfirma JW Botes Ingelyf in Pretoria, sê: “Dis gek om te dink dat dié huurooreenkoms ooit sou kon dien as sekuriteit vir die bedrag wat geleen is.” VBS sal nie op Nkandla beslag kan lê nie, maar wel op Zuma se roerende bates as hulle vonnis teen hom kry.

Die huurkontrak sê Zuma mag nie die huurkontrak aan ’n ander party toeken of sedeer of die perseel onderverhuur sonder die trust se toestemming nie. Botes sê as dié toestemming bestaan, sal VBS hoogstens die kontrak kan gebruik deur die nuwe huurder te word. VBS sal dan kan besluit wie op die perseel mag bly.

Leander Opperman, insolvensieregspesialis van die regsfirma Adams & Adams in Pretoria, sê die huurkontrak is nie werklik sekuriteit vir die lening nie.

Die enigste sekuriteit wat VBS eintlik gehad het, sou die opbrengs van ’n korttermyn-versekeringspolis wees. Die huurkontrak sê Zuma moet ’n versekeringspolis uitneem vir alle verbeterings op die grond en bewys kan lewer dat hy die premies betaal.

Opperman sê die polis dek egter net moontlike skade aan verbeterings. “Tensy skade aan die verbeterings aangerig word, is daar geen manier waarop VBS enige geld sou kon invorder as mnr. Zuma nie die verband terugbetaal nie.”

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Nompumelelo Ntuli  |  Nkandla  |  Skoolgeld  |  Ingonyama-Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.