Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skuiwe in kabinet: 'Dis Cyril se besluit'
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

Dit is pres. Cyril Ramaphosa se prerogatief om te besluit of hy sy kabinet wil skommel of nie.

Dít is al wat Tyrone Seale, Ramaphosa se waarnemende woordvoerder, Dinsdagmiddag oor die toenemende bespiegelings oor ’n moontlike kabinetskommeling wou sê.

Die DA het Dinsdag gesê dat voorverlede week se onluste en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng vertroue in Suid-Afrika tot ’n algehele laagtepunt gedryf het, en dat dit duidelik is dat “niks minder as ’n grootskaalse kabinet-skoonmaak mense se geloof in hierdie land sal herstel nie”.

Die party het vroeër ook reeds die kop geëis van Bheki Cele, minister van polisie, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, weens hul trae reaksie op die onluste, sowel as dié van die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, wat tans weens die Digital Vibes-tenderskandaal op spesiale verlof is.

Seale het Dinsdag bygevoeg dat Ramaphosa nog nie die finale Digital Vibes-verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid uitgereik het nie omdat die inligting daarin glo bewaar moet word vir moontlike vervolgings, siviele hofgedinge of tugverrigtinge.

Intussen het Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor die polisie, Dinsdag ’n beroep gedoen op die parlement om dringend met sy parlementêre ondersoek na bogenoemde onluste, waarin meer as 200 mense dood en miljarde rand se skade aangerig is, te begin.

Die DA is veral bekommerd oor die “uiters gelaaide en rasgedrewe” nadraai van sommige sterftes, veral nadat rassespanning op sosiale media onder die hutsmerk #PhoenixMassacre aangevuur is.

“Cele moet aanspreeklik gehou word vir die polisie se mislukking om gemeenskappe soos Phoenix (in Durban) veilig te hou. Dit het gelei tot ’n vakuum wat deur gemeenskapspolisiëringstrukture, private veiligheidsmaatskappye en na bewering in sommige gevalle deur opportunistiese vigilante gevul is.”

Volgens Whitfield het die polisie heeltemal daarin misluk om die gemeenskappe teen die georkestreerde geweld en onluste te beskerm, wat daartoe gelei het dat gemeenskappe soos dié van Phoenix verenig het om self hul huise en ondernemings te beskerm.

Cele moet aanspreeklik gehou word vir die polisie se mislukking om gemeenskappe soos Phoenix (in Durban) veilig te hou.

Hy meen die aangeleentheid word tans “roekeloos” uitgebuit om spanning tussen veral swart en Indiër-gemeenskappe aan te hits.

Die DA glo daarom dat die parlementêre ondersoek wat Cedrick Frolick, voorsitter van komitees in die Nasionale Vergadering, belowe het “kritiek sal wees om die feite en bewyse te assesseer, terwyl dit gemeenskappe nader aan versoening sal bring”.

Vroeër is berig dat Frolick verlede Woensdag op ’n besoek van LP’s aan beskadigde winkelsentrums in Soweto gesê het dat die portefeuljekomitee oor die polisie, die gesamentlike staande komitee oor verdediging en die gesamentlike staande komitee oor intelligensiedienste, ’n diepte-ondersoek oor die onluste sal voorstel en gesamentlik daaroor aan die parlement verslag sal doen.

Herman Mashaba, hoof van Action SA, het Dinsdag ook op ’n aanlyn mediakonferensie gesê sy party sal ’n skriftelike ultimatum aan Ramaphosa rig om binne twee maande ’n regterlike kommissie van ondersoek na die onluste aan te stel.

As dit nie gebeur nie, sal Action SA ’n klag by die openbare beskermer indien om Ramaphosa te dwing om ’n kommissie aan te stel, net soos sy voorganger (oudpres. Jacob Zuma) gedwing is om die Zondo-kommissie aan te stel.

Mashaba en sy party skryf die onluste toe aan “onvergeeflike” interne ANC-faksiegevegte en het belowe dat sy party nie sal rus totdat diegene agter die “hoogverraad” geïdentifiseer en aanspreeklik gehou is nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Kabinet  |  Kabinetskommeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.