Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Skop Mapisa-Nqakula uit oor ANC se Harare-vlug’ – DA

Pres. Cyril Ramaphosa het geen keuse as om Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, die trekpas te gee nie. 

Só het die DA Dinsdag gereageer nadat die ANC onderneem het om op te dok vir die koste van die lugmagvliegtuig waarmee ’n senior afvaardiging van die party verlede week Harare toe gevlieg het. 

Hulle het met die regerende Zanu-PF-party oor die krisis in Zimbabwe vergader.

Mapisa-Nqakula, wat ook ’n lid van die ANC-afvaardiging was, het toestemming gehad om op haar besoek ook ’n amptelike vergadering met haar Zimbabwiese ampsgenoot te hou.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê dit is nou duidelik die minister het opsetlik die ANC-afvaardiging toegelaat om staatshulpbronne te misbruik ter wille van politieke doelwitte.

“Dit is ’n growwe skending van haar ampseed, pligsversuim en ’n totale verontagsaming van etiese standaarde,” sê hy in ’n verklaring. 

Ramaphosa het weens die groot openbare druk oor die voorval Vrydagaand vir Mapisa-Nqakula opdrag gegee om binne 48 uur aan hom verslag te doen oor die omstandighede wat daartoe gelei het dat die ANC-afvaardiging in die lugmagvliegtuig was.

Die inhoud van die verslag is nie bekend nie.

Gistermiddag het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ná ’n vergadering tussen die Zimbabwe-afvaardiging en die party se nasionale leierskorps aangekondig die ANC sal vir die vlug betaal. 

Magashule het toegegee die ANC-afvaardiging is op ’n “ongewone manier” Harare toe.

Hy het ook om verskoning gevra dat hulle ook die regering se inperkingsregulasies daarmee oortree het. Al die lede van die afvaardiging is volgens hom nou in selfisolasie. 

Dit is ’n growwe skending van haar ampseed, pligsversuim en ’n totale verontagsaming van etiese standaarde.

Die DA wil onder meer hê ’n paneel lugvaartkenners moet die presiese bedrag bepaal wat die ANC moet opdok. 

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, wou egter gister in ’n onderhoud met eNCA nie woorde gebruik soos dat “staatsbronne wanaangewend” is nie.

“Dit is nie noodwendig deel van die woordeskat van die ANC nie,” het Mabe gesê.

Die ANC aanvaar nogtans die verantwoordelikheid en het hom tot optrede verbind.

“Ons hoef nie dramaties hieroor te wees nie. Die ANC aanvaar verantwoordelikheid en is besig om reëlings te tref om vir die geld te betaal. Ons probeer nie regverdig wat ons gedoen het nie.

“Dit is nie vir ons (die ANC) om te sê ons het dit of dat verkeerd gedoen nie.”

In antwoord op ’n vraag of Rama­phosa geweet het dat die ANC-afvaardiging met die minister van verdediging sou saamvlieg, het hy geantwoord Ramaphosa is Maandag daaroor ingelig toe die afvaardiging terugvoering aan die nasionale leierskorps van die ANC gegee het. 

Daarna is besluit die ANC sou vir die uitgawes betaal.

Mabe sê die ANC is Zimbabwe toe nie net in die belang van die ANC nie, maar “in die belang van die mense van Suid-Afrika”. 

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die ANC moes vooraf geweet het hy gaan misbruik maak van staatsbronne, maar “hulle het ’n kans gewaag”.

Meer oor:  Nosiviwe Mapisa-Nqakula  |  Trekpas  |  Minister  |  Harare-Vlug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.