Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skors Hlophe hangende ondersoek, vra DA

Regter John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, moet geskors word hangende die ondersoek na beweerde growwe wangedrag teen hom, sê die DA.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het verlede week aanbeveel dat ’n tribunaal aangestel word om die ernstige bewerings teen Hlophe te ondersoek.

Die besluit kom maande nadat die adjunk-regter-president, Patricia Goliath, Hlophe onder meer daarvan beskuldig het dat hy sy mag misbruik én haar mondelings aangeval het.

Wes-Kaapse Regter-president, John Hlophe.

Goliath het die klagte van growwe wangedrag in Januarie teen Hlophe ingedien en onder meer beweer dat hy ’n ander regter-kollega aangerand het, vernederende taal teenoor haar (Goliath) gebruik het en dat hy take wat aan haar opgedra moes word, aan ’n junior regter toegewys het.

Die bewerings sluit in dat hy glo ’n kollega, regter Mushtak Parker, in sy kantoor aangerand het.

Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder vir justisie en korrektiewe dienste, het die besluit om ’n tribunaal aan te stel, verwelkom, maar sê gegewe die lang geskiedenis van beweerde wangedrag behoort hy nie by die werk te wees tot nadat die ondersoek afgehandel is nie.

“’n Behoorlike ondersoek na die bewerings kan net gedoen word as hy tydelik nie daar is nie,” het sy gesê.

“Die tribunaal is ’n noodsaaklike stap om te verseker dat die regbank nie deur die beweerde magsmisbruik van ’n individu aangetas word nie en dat ons howe bewaarders van die Grondwet en die oppergesag van die reg bly.”

Volgens Breytenbach kan daar ook nie bekostig word om ’n situasie toe te laat waarin die onafhanklikheid van die howe ter sprake kom nie.

“Ons vertrou dat die instelling van die tribunaal in die saak waarby regter Hlophe betrokke is, die geloofwaardigheid en onafhanklikheid van die regbank asook die vertroue van die publiek in die howe sal herstel.”

Breytenbach sê sy hoop die tribunaal word die nodige ruimte gegun om sy werk behoorlik te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.