Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Skrapping van e-tol wel ’n opsie - Mbalula

Die skrapping van e-tol in sy geheel is wel een van die opsies wat ondersoek word in die regering se soeke na ’n volhoubare oplossing vir die omstrede elektroniese tolstelsel, het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Woensdag gesê.

Mbalula het op ’n mediakonferensie by die hoofkantoor van die departement van vervoer in Pretoria gesê die eis dat die omstrede e-tol vir die Gautengse Hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) geskrap word, is wel ’n opsie.

Wayne Duvenage, hoofbeampte van Outa, en Fikile Mbalula, gister op ’n mediakonferensie in Pretoria. Foto: Bonolo Selebano

“Ons kyk na baie opsies en ons praat met almal. Die gewilde opsie is om dit te skrap. Ons ondersoek dit, maar daar is baie ander wat na vore gebring word,” het Mbalula gesê.

Sy opmerking kom teen die agtergrond daarvan dat sy gesprekke met belanghebbendes oor die e-tol-dilemma goed op dreef gekom het. Mbalula het Woensdag met die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die AA gepraat.

Albei dié instellings sê al lank die beginsel van die gebruiker wat moet betaal, waaraan Gautengse motoriste tans deur die e-tolstelsel onderwerp word, is onvolhoubaar as ’n manier om dfie GFIP te befonds.

Pres. Cyril Ramaphosa het Mbalula, Tito Mboweni (minister van finansies) en David Makhura (Gautengse premier) ’n spertyd van einde Augustus gegee om ’n oplossing vir die dooiepunt te kry en aan hom verslag te doen.

Mbalula sê egter hy gaan nog twee tot drie weke nodig hê voordat hy sal kan verslag doen.

“Ons was vasbeslote om dit teen Augustus afgehandel te hê, maar gisteraand het ek met Makhura en sy uitvoerende raad gepraat. Hulle het uitstel van so twee weke versoek. Daar is vakbonde betrokke met wie ons sal moet praat, daar is die burgerlike gemeenskap en politieke formasies.”

Wayne Duvenage, hoofbeampte van Outa, het gesê hulle het voorleggings oor ’n rits ander befondsingsopsies vir GPIF aan Mbalula gedoen.

Van die moontlikhede is dat die regering die GPIF befonds soos wat Sanral meer as 18 000 km van sy nie-getolde paaie befonds: deur toewysings van die tesourie; en dat e-tol befonds kan word deur ’n brandstofheffing om die las op verbruikers te verlig.

“Al wat die regering moet doen, is om die brandstofheffing met 10c te verhoog en dit sal die R2,6 miljard oplewer wat hy nodig het. Dit sal ’n tweeledige samestelling wees van staatsbewilligings en ’n brandstofheffing. Daar is 'n aantal opsies,” sê Duvenage.

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Gauteng  |  Politiek  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.