Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Slag én reddingsboei vir OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het nóg ’n bloutjie in die hof geloop.

Dié keer het die hooggeregshof in Kaapstad Woensdag haar aansoek van die hand gewys om al die reëls wat die parlement wil gebruik om haar as sittende hoof van ’n hoofstuk 9-instelling uit haar amp te verwyder, ongrondwetlik te verklaar.

Terselfdertyd het die parlementêre ondersoekkomitee wat moet bepaal of sy geskik is vir haar amp, Woensdag voorlopig sy konsepprogram en die regsraamwerk vir sy ondersoek aanvaar. Dié komitee is geskeduleer om eerskomende Woensdag weer te vergader om sy finale program en die raamwerk vir sy ondersoek te aanvaar.

Regters Elizabeth Baartman, Mokgoatji Dolamo en Lister Nuku het in hul uitspraak Woensdag egter ’n gedeeltelike reddingsboei aan Mkhwebane gegooi deur wysigings aan twee van die reëls te beveel.

’n Duidelik veglustige Mkhwebane het dít Woensdagmiddag in ’n verklaring verwelkom en bygevoeg dat die parlementêre verwyderingsproses teen haar op grond hiervan onmiddellik gestop moet word.

Die wysigings wat die hof beveel het, behels onder meer dat ’n hoofstuk 9-ampsdraer soos Mkhwebane in die ondersoekkomitee deur ’n regspraktisyn of ander deskundige van haar keuse bygestaan moet word.

Daar is ook beveel dat die verwysing in die reëls na die aanstelling van ’n regter as deel van die onafhanklike paneel wat moet bepaal of daar prima facie-bewyse is om ’n verwyderingsproses te begin, gewysig moet word om regters uit te sluit.

Dit is slegs weens die bevindings van dié paneel dat die huidige ondersoekkomitee aangestel is nadat die paneel se verslag in die Nasionale Vergadering (NV) ingedien en aanvaar is.

Baartman het in die uitspraak gesê dit is nodig, veral omdat die regbank die laaste ruk aangeval word met beweringe dat hy partydig jeens politieke partye of faksies is. “Geregtelike betrokkenheid in hierdie (verwyderings)proses sluit aan by daardie narratief.”

Volgens die regters moet die regbank eerder wegbly van “polities gelaaide” prosesse waarby hulle geen ander waarde voeg as dat hul teenwoordigheid gerieflik is nie.

’n Onafhanklike paneel onder leiding van regter Bess Nkabinde, afgetrede regter van die konstitusionele hof, het vroeër bevind dat daar prima facie-bewyse teen Mkhwebane bestaan. Dit het tot die stigting van die huidige ondersoekkomitee gelei.

Mkhwebane sê in ’n verklaring die hof se bevinding Woensdag kom daarop neer dat die Nkabinde-paneel onwettig aangestel is.

“Dit is slegs weens die bevindings van dié paneel dat die huidige ondersoekkomitee aangestel is nadat die paneel se verslag in die Nasionale Vergadering (NV) ingedien en aanvaar is.

“Die huidige proses moet gevolglik onmiddellik gestop word. Om voort te gaan op grond van die ou, ongewysigde en gedeeltelik ongrondwetlike reëls asof niks gebeur het nie, sal neerkom op ’n aanval op die gesag van die howe, die oppergesag van die reg en die grondwetlike regte van die OB.”

Mkhwebane het daarom ’n beroep op die NV gedoen om eers die reëls te wysig. “Enige gejaagde proses kan net tot nog ’n verkwiste, gebrekkige en onwettige uitslag lei.”

As die hof aan die ander kant egter bevind dat daar een of twee spesifieke reëls is wat gewysig moet word, mag dit steeds vir die parlement moontlik wees om daardie reëls te wysig om dit in ooreenstemming met die Grondwet te bring, waarna die komitee met die proses kan voortgaan.

Fatima Ebrahim, regsadviseur vir die parlement, het egter vroeër Woensdag – voordat die hofuitspraak gelewer is –aan die ondersoekkomitee gesê as die hof sou bevind dat die “reëls in sy geheel tersyde gestel moet word, sal dit beteken dat die komitee nie met die proses kan voortgaan nie”.

“As die hof aan die ander kant egter bevind dat daar een of twee spesifieke reëls is wat gewysig moet word, mag dit steeds vir die parlement moontlik wees om daardie reëls te wysig om dit in ooreenstemming met die Grondwet te bring, waarna die komitee met die proses kan voortgaan.”

Thandi Modise, speaker van die NV, het Woensdagaand in ’n verklaring gesê die NV neem kennis van die hof se spesifieke bevindinge rakende die insluiting van ’n regter in die onafhanklike paneel en die reg van ’n hoofstuk 9-ampsdraer tot regsverteenwoordiging tydens die ondersoekkomiteefase van die verwyderingsproses.

“Die parlement konsulteer sy regspan wat die uitspraak ten volle bestudeer en sal ’n bepaling maak oor die implikasies van die uitspraak op sy onafhanklikheid en die wyse waarin dit sy interne prosesse bepaal.

“Die wyse waarop die komitee voortgaan, sal op regsadvies gegrond wees,” het Modise gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.