Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Slagordes opgestel vir Magashule’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Elizabeth Sejake

’n Hewige debat oor die regsmening oor die hantering van ANC-leiers en -lede wat van korrupsie beskuldig word en of hulle van hul poste moet afstand doen of nie, word die naweek op die vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) verwag.

Dakota Legoete, ’n ANC-woordvoerder, het Woensdagmiddag in aanloop tot dié vergadering gesê ’n regsmening is ontvang, maar hy wou nie uitbrei daarop nie.

Dié kwessie sal na verwagting die spanning verhoog tussen ondersteuners van onderskeidelik pres. Cyril Ramaphosa en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat self weens korrupsie teregstaan.

Legoete sê die topses-leiers het ’n regsmening van ’n senior advokaat ingewin. “Ons het dit ontvang. Ek wil nie daaroor uitwei nie, omdat die topses en die nasionale werkkomitee dit eers moet bespreek voordat dit verder op die NUK-vergadering bespreek sal word,” het Legoete bygevoeg.

Die Umkhonto we Sizwe-veteranevereniging (MKMVA) het Maandag in ’n verklaring gesê sy NUK het die regsmening op sy vergadering die afgelope Vrydag verwelkom.

Die MKMVA, wie se topleiers self stoere Magashule-ondersteuners is, het gesê dit lui onder meer dat die “ANC geen magte het om sy leiers wat strafregtelik van korrupsie en ander ernstige misdade aangekla word, te dwing om afstand van hul poste te doen nie.

“Terwille van eenheid in die ANC doen ons ’n ernstige beroep op alle NUK-lede om nie te probeer om die diep verdelende kwessie verder te wil afdwing nie en dat hulle hulself moet laat lei deur die regsadvies wat hulle ingewin het,” sê die MKMVA in ’n verklaring.

Intussen het News24 Woensdag ook berig dat Ramaphosa-ondersteuners intussen nog ’n regsmening bekom het wat onder meer lui dat Magashule weens die klagte teen hom afstand moet doen van sy pos én dat dít ook op die NUK-vergadering op die agenda geplaas sal word.

Legoete het daaroor gesê “wat ons betref, is daar geen tweede regsmening deur die ANC bekom nie”.

Ter wille van eenheid in die ANC doen ons ’n ernstige beroep op alle NUK-lede om nie te probeer om die diep verdelende kwessie verder te wil afdwing nie en dat hulle hulself moet laat lei deur die regsadvies wat hulle ingewin het.

’n Stoere Ramaphosa-ondersteuner, wat anoniem wou bly, het egter Woensdag gesê “die slagordes sal die naweek vir Magashule opgestel wees. ’n Mosie gaan ingedien word dat hy van sy pos afstand doen hangende die aanklagte teen hom”.

“Ramaphosa en sy ondersteuners het die oorhand in die NUK. Magashule sal die keuse hê om vrywillig af te staan of hy gaan die risiko loop om geskors te word.”

’n Ondersteuner van Magashule, wat ook anoniem wou bly, het oor die beweerde tweede regsmening gesê dit is “vreemd” dat sommige mense “van die normale praktyke vir regsmenings sou afwyk om een te bekom wat hulle pas.

“Die reg moenie vir faksie-doeleindes gebruik word nie. Dit is nie in die belang van eenheid in die party nie. Sulke optrede moet vermy word omdat dit die ANC ernstige skade kan berokken,” het die bron gesê.

Intussen het dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder van die Nelson Mandela-Universiteit, oor die jongste verwikkelinge gesê die ANC moes nooit aangekondig het dat lede wat beskuldig word, afstand van hul poste moet doen voordat hulle ’n regsmening daaroor ingewin het nie.

“Daar is nou skreiende bewyse dat dit die party net verder verdeel. Daar is geen manier waarop die botsende faksies saam kan bly voortbestaan nie. Die fundamentele vraag is hoe die ANC in volgende jaar se plaaslike verkiesings gaan meeding as hy so verdeeld is,” het Breakfast gesê.

Meer oor:  Nuk  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.