Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Slagting op plase, ‘maar Cyril swyg’

Daar woed ’n oorlog teen boere en ander bewoners van landelike gebiede en ’n mens staan eintlik verstom dat nie pres. Cyril Ramaphosa of enige van sy ministers ’n woord oor dié euwel uiter nie, sê Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Dié oorlog sal nie gou stop nie omdat die staat van inperking werkloosheid en armoede skerp laat toeneem het, sê Burger.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Presidensie

Vrystaatse boere sit met ’n bykomende krisis omdat die armoede-situasie in Lesotho op ’n humanitêre ramp afstuur.

Boere word as ’n sagte en afgesonderde teiken beskou, en dit is amper voorspelbaar dat landelike gebiede toenemend die teiken sal word van misdadigers.

Burger sê hoewel swart mense ook onder misdaad op plase deurloop, is nie Ramaphosa of sy ministers bereid om dié misdaad, wat dikwels met wrede marteling gepaard gaan, te veroordeel nie.

“Hoekom is daar ’n ongemaklikheid by die regering om op te staan en plaasmoorde en -aanvalle te veroordeel?” vra Burger.

Hy sê aan die begin van die staat van inperking het die regering die bevolking gerusgestel en beloof dat die land voedselsekerheid het, wat beteken hy het vertroue in die landbousektor.

Tog glo Burger dat politieke uitsprake deur regeringsleiers misdadigers motiveer om plase te teiken.

“Boere is in ’n staat van beleg; ons sien hoe lyk die mense wat onder plaasaanvallers deurloop,” sê hy.

Hy sê die inperkings het misdaad in die begin laat daal, maar die oomblik toe die beheermaatreëls verslap is, het dit weer gestyg.

Nou is daar ’n bykomende dimensie, naamlik dat werkloosheid en armoede toegeneem het en dit tot die misdaadvlakke bydra, sê hy.

Die burgerregteaktivis Sihle Ngobese sê dit is skandelik hoe die regering versuim om families op plase te beveilig.

Dit is een van die ANC-regering se grootste mislukkings, sê hy.

Boere is in ’n staat van beleg; ons sien hoe lyk die mense wat onder plaasaanvallers deurloop.

“Boere moet hulself organiseer en aanhou om hulle stemme hard en duidelik oor hierdie onreg te laat hoor.”

Ngobese sê nie die minister van polisie, Bheki Cele, of Ramaphosa sê ooit iets oor plaasmoorde nie.

“Hulle het die mag, maar dit word gebruik om mense wat sigarette en drank gebruik, rond te jaag.”

Boere moet die huidige veiligheidstrukture verbeter en mense van alle rasse moet saam teen misdaad baklei.

Ngobese, wat by die Instituut vir Rasseverhoudings betrokke is en bekend staan as Big Daddy Liberty, sê hy reis tans oor die lengte en breedte van die land om ’n dokumentêr te maak oor die reg op lewe, vryheid en eiendom.

“Die regering misken dié drie regte.

“Die ANC se versuim om boere te beveilig moet ook op die internasionale verhoog bekend gemaak word.”

Volgens TLU SA se jongste syfers was daar sóveel moorde en aanvalle nadat die staat van inperking verslap is dat die syfers van die eerste 13 weke van die jaar ooreenstem met die volgende 13 weke.

Daar was vanaf Januarie tot einde Maart 12 moorde en 69 aanvalle en vanaf 1 April tot op datum 12 moorde en 59 aanvalle.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.