Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Slegs God kan haar uit pos verwyder, twiet OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), glo dat sy deur God in haar pos geplaas is en dat slegs God haar kan verwyder “as Hy van mening is ek het misluk”.

In die sterkste aanduiding sover dat fel kritiek teen haar die afgelope 20 maande sy tol begin eis, het Mkhwebane haar Vrydagaand tot Twitter gewend en in ’n reeks van 87 twiets getier dat sy siek en sat daarvoor is om uitgekryt te word as “onbevoeg” (deur ’n minister) of ’n “idioot” (deur ’n direkteur-generaal). ’n Joernalis het haar ook ’n “moroon” genoem.

Sy verloor nie slaap ‘oor al die geraas nie’.

Nog ’n minister het gesê sy het ’n “probleem” en het voorgestel “dat ons moet gaan sit, klaarblyklik dat hy toesig oor my kan hou”, het sy getwiet. Mkhwebane kom tot die gevolgtrekking dat dié soort reaksie spruit uit die feit “dat ek die moed het om my magte aan te wend en my taak uit te voer sonder vrees, guns of vooroordeel. Ek het dit gewaag om magtige instellings en individue te pak”.

“Dit blyk die doodsonde was dat ek dapper genoeg was om die establishment te takel deur opdrag te gee dat R1,125 miljard wat verlore is vir die mense van Suid-Afrika deur ’n onwettige skenking van die SA Reserwebank aan Bankorp/Absa, teruggevorder word.”

Dit is ’n verwysing na die OB se verslag van Junie 2017 waarin sy gelas het Absa moet die Reserwebank ’n bedrag van R1,125 miljard terugbetaal. Dié bedrag was volgens haar ’n reddingsboei wat die Reserwebank aan Bankorp in die apartheidsera betaal het.

Absa het Bankorp later oorgeneem.

Die Reserwebank en Absa het die verslag en aanbevelings in hersiening geneem en die hooggeregshof in Pretoria het in die banke se guns beslis. Mkhwebane is ook beveel om 15% van die Reserwebank se regskoste in haar private hoedanigheid te betaal. Die res moet deur haar kantoor betaal word.

Haar appèl teen die bevel is nog hangende.

Mkhwebane het ook getwiet dat sy in stormagtige tye dink aan die woorde van ’n biskop wie se pad hare gekruis het, en dié se storie oor ’n ou man wat gemik het om tot elke prys die berg Everest uit te klim.

Namate die ou man gevorder het, het diegene wat van bo af kom, hom afgeraai.

“Die les van dié storie is dat daar baie geraas sal wees van kritici en siniese mense as jou missie is om te doen wat ongewild is.”

Sy verloor egter nie slaap oor “al die geraas nie. Ek is trots op die kantoor se prestasie sover onder my leierskap,” het sy getwiet.

Vroeër die afgelope week het Mkhwebane haar ook na YouTube gewend om die status van sommige van haar ander ondersoeke te verduidelik, onder meer dié teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

In reaksie het @BerlijnDps haar gevra of sy nie eerder haar persoonlike Twitter-rekening moet gebruik, eerder as die OB se amptelike een nie.

“Is dit nie jou persoonlike sienings nie of is dit ’n amptelike posisie van die kantoor van die OB. Verder, is die OB-kantoor 24/7 oop dat jy dit om middernag kan skryf? Kan jy OB-verwante navrae enige tyd van die dag aanvaar?”

@PanizaLuthuli het raad vir haar gehad: “Jy is nie ’n politikus nie, moenie soos een optree nie. Dit gaan nie oor gewildheid nie. Jy behoort die publiek getrou sonder vrees of guns te dien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.