Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sleutelfigure in regering is gekaap, hoor Zondo

Staatskaping het gebeur en sleutelfigure in die regering is gekaap.

Die demokrasie, waarvoor so baie mense so duur betaal het, word ondermyn.

So het Popo Molefe, voormalige raadsvoorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), Dinsdag ter afsluiting van sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Popo Molefe, voormalige voorsitter van die Prasa-raad, getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

“As die kwessies nie hanteer word nie, kan dit lei tot ’n outokratiese mag in die land waar die Grondwet en die openbare verteenwoordiging van die mense nie meer iets vir die armes van die land beteken nie,” volgens Molefe.

Hy het gevra of Lucky Montana ooit as uitvoerende hoof van Prasa aangestel is om die allerbelangrikste taak te verrig om Prasa te bestuur “of was hy daar om ’n ander taak te verrig”.

Molefe het getuig die eerste skakel van die ketting van gebeure waaroor hy getuig het, was toe die Prasa-raad in November 2014 die wettigheid van ’n kontrak van R2,4 miljard vir die modernisering van die Braamfontein-depot bevraagteken het toe dit vir goedkeuring voorgelê is.

Molefe is in Augustus 2014 as die raad se voorsitter aangestel, waarna hy met sy ongemaklike vrae oor kontrakte begin het.

Montana het daarna die Prasa-raad ingelig sy tyd as uitvoerende hoof is uitgedien en hy gaan nie vra dat sy kontrak hernu word nie.

Al die optrede toon dat sekere individue of ’n groep individue beskerm word.
Popo Molefe, voormalige voorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa)

Molefe het getuig Montana het egter “baie besig geraak” en met allerlei organisasies kontak gemaak om hulle te betrek by ’n veldtog dat hy as groephoof heraangestel moet word.

’n Volgende skakel in die ketting was toe Dipuo Peters, in daardie stadium minister van vervoer, gesê het die Prasa-raad meng by haar werk in, het Molefe getuig.

Sy het verder gegaan en die nuwe waarnemende hoof van Prasa gevra om die raad se werking te ondersoek. Molefe het getuig dit het in der waarheid beteken dat die raad onder administrasie van die minister geplaas is.

Sekere lede van die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer het ook begin om die Prasa-raad aan te val in wat deur Molefe as ’n gekoördineerde veldtog teen die Prasa-raad beskryf is.

Daarna het oudpres. Jacob Zuma daarop aangedring dat Montana heraangestel word.

Jeff Radebe, toe minister in die presidensie, en Zuma het verder op ’n vergadering toegelaat dat Montana ’n lang relaas lewer oor hoe swak die Prasa-raad is.

Molefe het getuig wat daarop gevolg het, is dat Peters die Prasa-raad beveel het om sy ondersoeke na die bestuur van die passasierspooragentskap te staak. Molefe se pogings dat die Valke die Prasa-kontrakte ondersoek, was ook vergeefs.

“Al die optrede toon dat sekere individue of ’n groep individue beskerm word,” volgens Molefe.

“Die goeie mense (in die regering) is oorweldig deur die vrot appels, soveel so dat die vrot appels meer mag as hulle het,” het Molefe getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.