Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sluier gelig oor SAUK-verslag: Faith hét ingemeng

Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, het beslis in redaksionele besluite van die SAUK ingemeng.

Dit is die bevinding van die kommissie van ondersoek na politieke en redaksionele in­menging by die nasionale uitsaaier.

Sy verslag is Maandag op ’n mediakonferensie in Johannesburg deur Joe Thloloe, kommissievoorsitter en uitvoerende direkteur van die Persraad, bekend gemaak.

Faith Muthambi

Die DA sê hy gaan strafregte­like klagte teen Muthambi indien.

Die kommissie stel ook voor dat Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, se opdragte oor personeel ondersoek moet word. Dié opdragte was onder meer om tugverhore teen sekere werknemers in te stel, of om ander af te dank of te bevorder.

Die SAUK moet ’n oudit van aanstellings onder sy bewind doen en waar onregmatighede gevind word, moet dié aanstellings teruggetrek en die poste weer geadverteer word.

Die uitsaaier het reeds 34 werknemers geïdentifiseer wat in die hof sal moet verduidelik waarom hulle hul werk moet behou.

Thloloe het bevind dat nuushoofde “misluk het om hul redaksionele pligte na te kom” omdat hulle Muthambi en Ellen Tshabalala, oudvoorsitter, se opdragte uitgevoer het.

“Hulle het van 2012 tot 2017 opdragte uitgevoer van mense met geen gesag in die nuuskantoor nie, onder andere die SAUK-direksievoorsitter (Tshabalala) en die minister van kommunikasie (Muthambi),” sê Thloloe.

Hierdie ondersoek is in Mei 2018 begin ná verslae van die openbare beskermer (OB), ’n parlementêre ondersoek en klagtes van die burgerlike samelewing.

Die kommissie moes ook bepaal of daar ’n “regstreekse verband” was tussen besluite van die ANC en redaksionele besluite in die SAUK se nuuskantore.

Thloloe sê hoewel geen bewyse daarvoor gevind kon word nie, “is die teenwoordigheid van die ANC in die nuuskantoor gevoel”.

Luidens die verslag het daar onder Motsoeneng se bewind ’n gevoel van “vrees, pyn en woede” onder SAUK-werknemers geheers.

Die organisasie is “vermink” deur “frustrasie, kommer en apatie, asook deur onoplettendheid, afsydigheid en hulpeloosheid”.

“Die kommissie het bevind dat die SAUK gely het onder ’n magsgekonkel om personeel te terroriseer en die uitsaaier weg te draai van sy mandaat en sy redaksionele beleid,” sê Thloloe.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die huidige SAUK-direksie, sê hulle sal optree teen diegene wat in die verslag geïmpliseer word.

Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, sê Muthambi het nie net die Uitsaaiwet oortree wat die SAUK as onafhanklike instelling beskerm nie, maar het ook die parlement in 2016 mislei toe ondersoek na die uitsaaier gedoen is.

“In haar getuienis het sy uitdruklik gesê sy het ‘nooit’ in die redaksionele besluite van die openbare uitsaaier ingemeng nie.”

Maar sy het byvoorbeeld wel opdrag gegee dat haar werwingswerk vir die ANC nuusdekking moet kry.

Sy het ook SAUK-werknemers beledig en op ’n keer gesê: “Ek sal julle afdank, ek sal julle regtig afdank.”

Die kommissie het ook aanbeveel:

  • ’n Advieskomitee oor nuus en aktuele sake om joernaliste en regisseurs oor redaksionele sake raad te gee, behoort geskep te word;
  • Minstens een jaarlikse werksessie oor redaksionele beleid behoort gehou te word;
  • Die uitsaaier moet weer “gesond word” en daarom is spanbougeleenthede nodig;
  • Vryskutwerkers se kontrakte moet hersien word sodat hulle ’n gesonde bydrae kan lewer; en
  • Verbeterde prestasiebestuur van personeel moet ingestel word.

Motsoeneng sê die verslag is “onsinnig” en deel van ’n “smeerveldtog” teen hom.

Meer oor:  Sauk  |  Faith Muthambi  |  Joe Thloloe  |  Politiek  |  Inmenging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.