Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Sluit van strande is steeds ongrondwetlik’

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, moet in hegtenis geneem word nadat sy versuim het om ’n hofbevel, waarin daar bevind is dit is ongrondwetlik om strande te sluit, na te kom.

So voer Reyno de Beer, hoof van die Liberty Fighters Network (LFN), aan.

De Beer het Woensdag gesê hy het reeds drie keer Dlamini-Zuma se regspan gemaan dat sy die hofbevel van 2 Junie 2020 wat in die hooggeregshof in Pretoria gemaak is, minag.

In hierdie bevel het die hof onder meer gevind die sluiting van parke en strande is ongrondwetlik.

Regter Norman Davis het in Junie bevind die regulasies wat deur Dlamini-Zuma gepromulgeer is, is ongrondwetlik en ongeldig.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: Argief

Hy het egter bevind die klassifisering van die land as ’n rampgebied ingevolge die Rampbestuurswet, is geldig, maar was baie krities oor sommige regulasies wat uitgereik is.

Hy het onder meer gesê dit is nie rasioneel om te dink die virus sal nie tussen honderde mense wat buite oefen, versprei nie, maar as ’n mens jou voete op ’n strand sit, sal dit infeksies laat toeneem.

Na dié bevel het Dlamini-Zuma ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien, maar net rakende sekere regulasies.

Dit is toegestaan, maar volgens De Beer moes sy op die bevindinge van al die regulasies appèl aangeteken het. Sy het volgens hom dit ook nie volgens die hof se tydraamwerk ingedien nie, en daarom is die saak tegnies nie meer geregistreer nie.

De Beer het op 18 Desember aan die minister se regspan geskryf en haar gevra om die hofbevel te gehoorsaam en alle strande te heropen. Hierop het hy geen antwoord gekry nie.

’n Paar dae later, op 23 Desember, het die minister ’n aansoek vir verskoning by die appèlhof ingedien, wat nog nie aangehoor is nie, en daarom, volgens De Beer, is die hofbevel van Junie steeds geldig.

strand
Twee mense sit Sondagmiddag op 'n bankie by die strand in Arniston in die Wes-Kaap. Foto: Meghan Lawrence

De Beer voer aan sy het in hierdie verklaring erken haar regspan het haar hofstukke nie betyds ingedien nie.

“Dit is ’n erkenning dat sommige dele van die bevel, soos die sluit van strande, ongrondwetlik is,” sê hy.

Maandagaand het pres. Cyril Ramaphosa die land na vlak 3 van die inperking verskuif met nuwe regulasies wat gepromulgeer is.

De Beer sê van dié regulasies is egter steeds ongrondwetlik ingevolge die hofbevel, soos die sluiting van strande en parke, asook die kriminalisering van drankverkope.

Dit is De Beer se mening dat die minister opsetlik die hofbevel minag.

Hy sê hy berei tans voor vir ’n hofaansoek om die minister hierop uit te daag.

strand
'n Verlate strand by Arniston in die Wes-Kaap die afgelope Sondagmiddag. Foto: Meghan Lawrence

Daar is vier hoofkwessies wat hy wil aanspreek, naamlik die klassifisering van die land as ’n rampgebied ingevolge art.1 van die Rampbestuurswet, die sluiting van strande en verbod op drankverkope, die betroubaarheid van die nuwe toetse vir die koronavirus wat gedoen word, en of diegene wat die toetse uitvoer, wettiglik geregistreer is as mediese personeel.

Die minister sal versoek word om op al hierdie punte voor die hof te reageer.

Navrae is aan die minister se woordvoerder, asook ander lede van haar departement gestuur oor De Beer se bewerings, maar geen terugvoering is ontvang nie.

De Beer se aansoek sal in die nuwe jaar in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Meer oor:  Nkosa­Zana Dlamini-Zuma  |  Weskus  |  Suid-Afrika  |  Tuinroete  |  Overberg  |  Oos-Kaap  |  Strande  |  Koronavirussiekte  |  Sluiting  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.