Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só benader partye 2019-verkiesing

Die algemene verkiesing op 8 Mei gaan na verwagting die taaiste wees sedert die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994 wat die ANC ver gewen het, meen politieke ontleders.

Suid-Afrikaners gaan dié keer na die stembus teen die agtergrond van die plaaslike owerheidsverkiesing in 2016, toe die ANC vir die eerste keer sy 50%-meerderheid in die land se sleutelmetro’s prysgegee het.

Die ANC het toe drie metrorade afgestaan en die party se steun het afgeneem nadat ’n koalisie tussen die DA en die EFF die regerende party se magsgreep verbreek het.

Verskeie menigspeilings is sedertdien gedoen om te probeer bepaal hoe die partye in dié verkiesing gaan vaar.

Hoewel die ANC 62% van die stemme in die algemene verkiesing in 2014 getrek het, het die DA en die EFF onderskeidelik 22% en 6% van die stemme getrek.

Ralph Mathekga

Die jongste beskikbare data deur die navorsingsreus Ipsos voorspel dat die ANC dié keer 61% van die stemme gaan trek. Die DA sal volgens die data slegter vaar en 14% van die stemme trek, terwyl die EFF beter sal doen en 9% van die stemme sal trek.

Dié Ipsos-peiling is tussen 23 Oktober en 4 Desember verlede jaar gedoen en is bepaal deur aangesig-tot-aangesig onderhoude met 3 571 volwassenes.

In Desember 2018 het die Instituut vir Rasse-aangeleenthede se kwartaalsyfers van kiesersvoorneme soortgelyke syfers getoon, met die ANC wat 56% van die stemme, die DA wat 18% en die EFF wat 11% van die stemme sal trek.

Gauteng is egter as ’n sleutel-slagveld uitgelig, waar geen party na verwagting ’n meerderheid sal behaal nie.

Hier sal die ANC na verwagting 48% van die stemme behaal, die DA 25% en die EFF 12%.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê e-tol het ’n politieke stok geword waarmee opposisiepartye die ANC in Gauteng kan slaan.

“Nie net e-tol nie, maar ook (die) Life Esidimeni(-skandaal) het onder die ANC se toesig gebeur. Die gesondheidstelsel in Gauteng het (ook) in duie gestort,” sê hy.

“Gauteng is ’n baie unieke provinsie, dit gaan ’n opdraande stryd vir die ANC wees om ’n meerderheid hier te behou. Hulle het reeds die Tshwane- en Johannesburg-metro’s verloor. Al die faktore sal ophoop.”

Dr. Piet Croucamp

Dit is waarom die DA se visier op Gauteng, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap instel met die komende verkiesings.

Terwyl dié party daarna strewe om sy meerderheid in die Wes-Kaap te vermeerder, wil hy ook Gauteng en die Noord-Kaap inpalm.

In die 2014- nasionale verkiesings het die ANC 50,59% van die stemme in Gauteng getrek. Die DA was hier tweede met 30,78% van die stemme en die EFF derde met 10,3%.

In die Wes-Kaap het die DA 59,38% van die stemme getrek; die ANC was tweede met 32,89% en die EFF derde met 2,11%. In die Noord-Kaap het die ANC 64,4% van die stemme behaal, die DA 23,89% en die EFF 4,96%.

Dr. Piet Croucamp, nog ’n ontleder, sê terwyl die akkuraatheid van meningspeilings debatteerbaar is, moet politieke partye dit steeds in aanmerking neem.

“Die korrekte vraag is tot watter mate dié peilings die manier wat politici dink, beïnvloed. Van hulle is korrek en ander kom baie naby daaraan.”

Croucamp het bygevoeg hoewel die ANC na verwagting beter sal doen as in die 2016- plaaslike verkiesing, die party nie sal verbeter op die 62%-meerderheid in die 2014- nasionale verkiesing nie.

“Hulle sal waarskynlik Gauteng wen, maar dit sal naelskraaps wees, miskien met 51% of 52% van die stemme. Die ANC sal beter doen as in die 2016- plaaslike verkiesings, maar ek kan nie sien dat hulle beter sal vaar as (toe) nie,” sê Croucamp.

Jacob Khawe, provinsiale sekretaris van die ANC in Gauteng, het in ’n onderhoud met Netwerk24 die party se verkiesingstrategie uiteengesit waardeur hy hoop om sy greep op die provinsie te behou.

Khawe sê die ANC het ’n oorlogskamer op die vierde verdieping van die provinsiale hoofkantoor in Walter Sisulu-huis in Johannesburg ingerig.

Hier sal die party se politieke breintrust saamtrek vir die ontwikkeling van politieke strategie voor die verkiesings.

“Ons het interne kapasiteit, ons doen ons navorsing. Ons kyk na ander meningsopnames. Maar ons vestig ’n oorlogskamer hier in die provinsie wat dít wat uit die verskillende opnames kom, ontleed. Wat ook al dan as ’n bedreiging kop uitsteek, word geprioritiseer en ons maak werk daarvan,” sê hy.

Solly Malatsi, nasionale woordvoerder van die DA, sê met dié dat die party reeds vir Solly Msimanga, die voormalige burgemeester van Tshwane, as sy kandidaat vir die premierskap in Gauteng benoem het, wys die party se eie interne meningspeilingdata dat Gauteng en die Noord-Kaap provinsies is waar die DA die ANC se magsgreep kan verswak.

Hy sê die ANC in Gauteng se beroep dat e-tol in Gauteng geskrap moet word, is sentraal tot die party se verkiesingsstrategie in die provinsie.

“Hulle (die ANC op nasionale vlak) het ons gevra om ’n voorstel voor te lê oor wat ons gaan doen met die skuld en hoe ons befondsing gaan bekom vir toekomstige infrastruktuurontwikkeling.

“As daar meganismes is om die koste van data, BTW en petrol af te bring, stel ons voor dat hulle e-tol in daardie pakket bysit.

“Dit is ’n voorstel vir ’n interministeriële taakspan wat pres. Cyril Ramaphosa gaan saamstel,” sê Khawe.

Veronica Mente, nasionale verkiesingswoordvoerder van die EFF, sê met die grondslag van die party se steun wat uit Gauteng kom, mik die party daarna om die mag uit die ANC se hande te wring.

Sy sê as die EFF dit nie regkry nie, sal die vestiging van die party as koningmaker die tweede prys wees.

“Die plaaslike owerheidsverkiesings het ons in koningmakers omskep in Tshwane en Johannesburg en ons het dit tot ons voordeel gebruik. Ons het in der waarheid ’n regering geword, sonder om in die regering te wees,” aldus Mente.

Solly Malatsi, nasionale woordvoerder van die DA, sê met dié dat die party reeds vir Solly Msimanga, die voormalige burgemeester van Tshwane, as sy kandidaat vir die premierskap in Gauteng benoem het, wys die party se eie interne meningspeilingdata dat Gauteng en die Noord-Kaap provinsies is waar die DA die ANC se magsgreep kan verswak.

“Ons doen gereeld meningspeilings en ons wil die Wes-Kaap behou en ons het die vooruitsig dat ons ’n meerderheid in Gauteng en die Noord-Kaap kan behaal, sê Malatsi.

Hy sê die smee van koalisies soos wat die DA ná die 2016- munisipale verkiesings gedoen het, is ook ’n opsie wat die party ná dié verkiesing sal oorweeg.

“Die werklikheid is dat koalisies die toekoms van Suid-Afrikaanse politiek is.”

Meer oor:  Ralph Mathekga  |  Anc  |  Politieke Partye  |  Eff  |  2019-Verkiesing  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.