Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só het groot asbesdak-‘staatskaping’ in VS gebeur

Edwin Sodi, die Gautengse sakeman wat Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem is in verband met die asbesdakke-projek van R255 miljoen van die Vrystaatse regering, was een van twee sakevennote wat die projek aan die Vrystaatse regering voorgestel het.

Sodi se vennoot, Ignatius “Igo” Mpambani, is in Junie 2017 helder oordag in ’n vermoedelike sluipmoord doodgeskiet waar hy in sy Bentley van sowat R3 miljoen in Sandton gesit het. Daar is R1 miljoen in kontant in sy motor gevind.

Sodi sowel as Mpambani se name is genoem in getuienis deur Mxolisi Dukwana, voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat, toe hy in April en Augustus 2019 voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.

Dukwana het uitgewys dat Sodi se maatskappy, BlackHead Consulting, en Mpambani se maatskappy, Diamond Hill Trading 71, ’n vennootskap gevorm het en die kontrak van die Vrystaatse regering gekry het sonder dat daar ’n oop tenderproses was.

Die getuienis van Mxolisi Dukwana voor die Zondo-kommissie.
Getuienis oor die e-posse tussen die sakemanne Edwin Sodi en die vermoorde Igo Mpambani.
’n Lys van beweerde betalings waaroor Mxolisi Dukwana voor die Zondo-kommissie getuig het.

Die kontrak was om ou asbesdakke wat nog deel is van huise wat voor 1994 gebou is, te tel en ’n verslag daaroor te skryf.

Dié twee vennote het die werk uitgekontrakteer aan Mastertrade 232, wat weer die werk uitgekontrakteer het aan die ORI Group. Abel Manyike, direkteur van die ORI Group, was die man wie se onderneming uiteindelik die werk gedoen, het hyself voor die kommissie getuig.

Maar dit was in die getuienis van Dukwana wat die omvangryke netwerk beskryf is van hoe die kontrak bekom is, asook van ’n lys van name aan wie daar glo omkoopgeld betaal is.

Dukwana het onder meer getuig:

Daar was ’n e-pos wat hy gesien het waarin aangedui is die “totale koste” om die kontrak te bekom was R82,6 miljoen – oftewel dit was die voorsiening wat uit die betaling van R255 miljoen gemaak is vir onder meer omkoopgeld.

Die oorblywende geld sou in twee dele verdeel word tussen Mpambani en Sodi sodat elkeen sowat R86 miljoen uit die kontrak sou maak.

Daar was ’n lys van betalings wat Mpambani glo gemaak het met voorletters en verwysings na amptenare wat omkoopgeld sou ontvang, het Dukwana aangevoer.

Daarin is voorletters soos “AM” “OM” asook name soos Steve en Martin op die lys en dan bedrae agter hul name, R10 miljoen aan “AM” en R1 miljoen aan “OM.”

Dit beteken daar is vir twee maande se werk R255 miljoen betaal.

Dukwana het na Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, verwys en aangevoer sy betrokkenheid in die Vrystaatse asbesoudit-kontrak en die “kaping van R255 miljoen” wys hy is nie geskik vir sy amp in die ANC nie.

Hy het Magashule as ’n “blesser” beskryf – ’n soort Kersvader wat ander se geld gebruik het om skenkings vir mense te reël en hulle só te beïndruk.

Dukwana het getuig daar was ’n voorstel van slegs vyf bladsye vir die asbesdakke-projek – dit is al wat nodig was vir ’n betaling van R255 miljoen – en daar was nie enige tenderproses nie.

Die werk is volgens die kontrak tussen 2 Desember 2014 en 15 Februarie 2015 gedoen. Daar moet in gedagte gehou word dat mense in die boubedryf in Desember minstens twee weke hul ondernemings sluit. Dit beteken daar is vir twee maande se werk R255 miljoen betaal, het Dukwana getuig.

Hy het aangevoer dié kontrak is een van die voorbeelde van korrupsie onder die leierskap van Magashule as die destydse premier van die Vrystaat.

Hy het ook gesê die “asbesprojek-kaping” is deur Magashule georganiseer en deur sy kantoor uitgevoer en dat dit niks anders as geldwassery was nie.

Meer oor:  Valke  |  Mxolisi Dukwana  |  Vrystaat  |  Asbesdak  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.